top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Staan asseblief uit die pad sodat God kan werk

Ek leer stadig, maar ek probeer. Wel, vanjaar het ek minstens geleer die Here werk dikwels ten spyte van onsself, nie as gevolg van onsself nie. Dis presies wat gebeur het in ’n episode wat uit die bloute weer op my radarskerm beland het en waaroor ek in 2008 in ’n rubriek in die dagblad Beeld iets geskryf het. George Nel het dit met my gedeel oor wat in Booysens se NG Gemeente afgespeel het waar hy die leraar is (tot einde vanjaar as hy aftree). Op Sondagoggend 27 Julie 2008 het George gevoel dat hy nie daardie dag moet preek nie, maar dat daar vir siek mense gebid moes word. ’n Paar mense het vorentoe gekom. Tussen hulle was daar ’n 15 jarige seun, Deon Janse van Rensburg. Deon het styf teen Jeanne van Schalkwyk gaan staan wat vir almal gebid het. George het eers vir Deon gevra wat op sy hart is. “Dat God al my sondes sal vergewe!” is al wat hy kon uitkry. Geld, ’n selfoon of gesondheid was nie op sy lysie nie. Net dat sy lewe voor God in die reine sou kom. Deon se lewe was moeilik. Geld was skaars en luukshede onbekend. Om te oorleef, moes hy allerlei skelm planne maak — tot daardie Sondagoggend dat Deon dit nie meer kon uithou nie. Voor die hele gemeente het hy gevra dat die tannie sou bid dat God sy sondes vergewe. Toe, op 15 Augustus 2008 was Deon weer voor die kansel. Hierdie keer was dit onbepland. ’n Paar dae tevore het hy ’n epileptiese aanval gekry en gesterf. Sy kis het op 15 Augustus op daardie einste plek gestaan waar hy skaars drie weke tevore gevra het dat die Here sy sondes sal vergewe. Presies net daar. Maar Deon se reis het genadiglik nie in vergetelheid geëindig nie — definitief nie voor God nie. Ook nie in Booysens NG Gemeente nie. In hulle kerkkantoor het ’n foto van Deon vertel: “Al wat hy gevra het, is vergifnis vir sy sonde.” Ons kan mekaar nie verander nie. Ons kan nie eens onsself verander nie; net God kan. As selfs ’n leraar op ’n goeie dag sy amptelike preekbeurt moet prysgee — tot ontsteltenis van ’n paar kerklike verbruikers — sodat God ’n Deon soos ’n brandhout uit die vuur kan ruk, dan is al ons eie geestelike plannetjies skaakmat. Maar wanneer daardie einste leraar dit waag om uit die pad te staan sodat Christus genade kan uitdeel aan ’n een–sin genadebedelaar, dan wys dit dat Hy nie aldag werk soos ons verwag nie. Staan gedurig uit Sy pad, dan sien jy wat ek bedoel.

 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page