top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Hoe lyk jy?

Hoewel jy die wind hoor waai, kan jy dit tog nie beheer of stuur nie. Dit waai waar dit wil. Jy weet nie eens presies waar dit vandaan kom of waarheen dit uiteindelik waai nie. Maar nogtans waai dit. Presies dit is waar van die manier waarop die Gees werk. Elke persoon wat uit die Gees gebore is, ervaar dit ook so. — Johannes 3:8 Het jy al daaraan gedink hoe uniek en besonders God jou gemaak het? Dat daar geen ander vrou is wat soos jy is nie omdat elke deel van jou net JY is?: Geen ander mens se liggaam, voorkoms, persoonlikheid, gees en siel is soos joune nie. Jy’s enig in jou soort deur God se hand geskep en deur die jare gevorm om te wees wat jy vandag is. Dalk is jy die vreugde wat soos ’n vaas ongekunstelde papawers ’n vaal vertrek opvrolik. Miskien is jou wese dié van ’n houtseilboot wat rustig oor die lewenswaters seil en vrede aan ander bring. Dit mag wees dat jy ’n antieke stukkie oudheid is wat ander met jou wyshede verryk. Of miskien is jy eerder ’n kontemporêre kunswerk met ’n interessante moderne streep wat altyd gereed is vir nuwe dinge. Wanneer die lig van Christus se liefde in ons harte is, maak dit nie saak van watter stoffasie ons gemaak is, hoe ons aanmekaar geweef is waar ons is nie, ons maak ’n verskil. Want ons is anders. Ja, ’n geesvervulde vrou straal skoonheid uit:

  • Mense geniet die skoonheid van haar hart omdat daar iets van die liefde van God in haar menswees gestalte kry.

  • Jy hou van haar omdat sy in vrede met haarself, ander en haar God leef.

  • Sy straal — ongeag die omstandighede — kalmte en rustigheid uit omdat sy weet wie haar Redder en Leidsman is.

Hoe lyk jy? Dink jy ander sien iets van die groot liefde van God in jou lewe? Beleef mense sy vergifnis, deernis en toegeneentheid deur jou? Is jou voorbeeld so aantreklik dat ander jou God wil ontmoet? Bid elke dag dat die Gees jou so sal vul dat sy liefde jou lewe onderskryf sodat ander Christus deur jou sal sien leef. En deur jou sal leer ken. Skepper-Vader, U wat elke deel van my gevorm het, U weet ook van al die verbleikte kolle in my lewe en die beskadigde dele van my hart. Maak my elke dag oor. Nuut! Sodat ek u beeld — u groot liefde — aan hierdie wêreld sal vertoon.

Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page