top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Hy leer jou leef

Christus het sy lewe ter wille van ons opgeoffer om ons los te koop uit die mag van die sonde. Nou behoort ons aan Hom. Ons is sy volk. Syne alleen! Hy het ons lewe splinternuut en silwerskoon gemaak. Nou kan ons doen wat Hy sê. Nog beter, nou wíl ons net doen wat Hy sê! — Titus 2:14 Ons praat dikwels oor God se wil. Ons vra daarna, wonder daaroor en twyfel selfs met tye wat sý wil regtig is. Ja, soms weet ons presies wat Hy van ons verwag net om ander kere weer desperaat na sy wil te soek ... en te sukkel om te weet wat Hy wil hê ons moet doen. Dan verstaan ons nie! Dis dan ons opregte begeerte om te luister na wat Hy wil hê ... en dan hóór ons Hom nie? Daar was al dikwels kere wat ek gewens het dat die Vader oornag ’n briefie op my bedkassie kan neersit sodat ek die volgende dag ’n klinkklare antwoord sal hê. Maar nou weet ons: God is God. Hy laat Hom nie voorskryf deur menslike behoeftes, ongeduld, vereistes en verwagtinge nie. Hy antwoord en doen soos en wanneer Hý wil. God praat met ons op sý manier en sý tyd. So wat doen ons nou? Hoe soek ons sy wil, weet ons wat Hy van ons vra en kan ons doen wat Hy sê as dit soms so duister voel. Die antwoord vind ons in sy Woord:

  • Hy hét die Heilige Gees aan ons gegee. Hy het as’t ware die hemelse sluise van wysheid en goedheid oor ons lewens oopgetrek. (Titus 3:6) Omdat die Gees in ons is, sal Hy — wanneer die tyd reg is — vir ons die nodige wysheid, kennis en intuïsie gee om te weet wat ons moet doen.

  • U Woord wys my presies hoe ek moet leef, soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap. (Psalm 119:105). Die Woord kan ons op elke terrein van ons lewe ondersteun, raad gee en lei.

  • Onthou, julle almal is mos broers en susters in die nuwe familie van die Here. Daarom moet julle vir mekaar omgee en mekaar se geloof sterk maak. 1 Tessalonisense 5:11b Hy gee aan ons medegelowiges om saam met ons te bid, met ons te praat en saam met ons na sy wil te soek.

As dit jou opregte begeerte is om God se wil te doen, sál Hy op sy tyd en wyse vir jou die regte antwoorde gee. Liewe vriendin in Christus, mag ek jou aanmoedig om getrou te bly, die stem van sy Gees gedurig op te soek, sy Woord jou eie te maak en saam met ander sy wil te soek. En les bes: Wees geduldig. God IS getrou! Gees van God, U weet dat ek soms te eiesinnig, haastig en ongeduldig is om u wil te soek ... en daarvoor te wag. Ek wil bittergraag u wil doen. Leer my asseblief om werklik te luister, te hoor en dan onvoorwaardelik te dóén.

Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page