Goeie maniere begin by my
In my kinderdae was Emsie Schoeman se etiket-wyshede baie bekend. Sy het gereeld in boeke en tydskrifte vir ons vertel wat is goeie maniere, en wat nie. Enigiets vanaf korrekte aanspreekvorme vir mekaar, tot by gepaste tafelmaniere, is gedurig onder ons aandag gebring. Toe iemand nou die dag in ’n gesprek opmerk dat goeie maniere in ons dag nie meer bestaan nie, dink ek onwillekeurig terug aan tannie Emsie se etiket-boeke. Intussen het die omgekrapte gespreksgenoot driftig vertel dat die jeug van ons dag buite beheer is. Om nie te praat van mense wat deesdae sommer net voor jou indruk in enige ry nie. Toe glip my herinneringe vir ’n oomblik selfs by tant Emsie verby tot by Aristofanes doer in die 4de eeu voor Christus. In die Grieks 3 klas moes ons juis deur sy een drama getiteld Wolke stoei. Skielik het Aristofanes se klagtes oor dieselfde tipe dinge by my opgekom, soos jongmense wat nie meer opstaan vir ouer mense nie, en wat ongevraagd gesprekke oorneem. Lyk my, niks het verander nie. In elk geval, respekvolle optrede teenoor mekaar is altyd ’n Bybelse moet! Miskien is dit die internet aangedrewe realiteite van ons dag wat maak dat die grense van respek en privaatheid tussen mense verkrummel. Of sommer net ’n algemene kultuur van “entitlement.” Wat ook al die redes, ons kort nuwe maniere van omgang met mekaar. En dit begin altyd en orals by onsself. Dink net hoe anders sal die wêreld wees as onsself die volgende Bybelse beginsels daagliks toepas: a. Alle mense het regte name en unieke persoonlikhede. b. Mense se waarde word nie bepaal deur hulle besittings of status nie. c. Mense se waarde neem nie af namate hulle ouer word nie. d. Die woord “askies” is ’n lewenslange belangrike brug tussen mense. e. Asseblief en dankie is steeds nie uit die mode nie. f. Woorde is belangrik, maar dade van omgee wen loshande.