top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Maak dit 'n "chicken or beef" dag

Sowat 25% mense in ons land het nie werk nie. Armoede is orals. Armoede diskrimineer nie. Dis kleurloos, godsdiensloos, geslagloos. Party word arm gebore; ander verarm vanweë siekte of werkloosheid. Armoede is ‘n monster. Of jy swart wit of bruin is- armoede tas uiteindelik jou menswaardigheid aan.

Ter wille van perspektief: Armoede is relatief. Op een of ander manier kan die meeste mense op aarde ‘n saak uitmaak dat hulle arm is. Dit hang net af met wie hulle hulself vergelyk. Baie dink hulle is arm as hulle nie meer elke jaar kan vakansie hou nie. Of as hulle nie elke maand kan gaan uiteet nie. Maar dan is daar diegene wat asblikke moet omkeer vir hulle daaglikse kos. Hulle moet oorleef op dit wat ander mense as afval beskou. Armoede het te make met die aantal keuses wat jy elke dag het. As jy nog kan kies tussen hoender of vleis, “chicken or beef,” soos wat die kelners op die vliegtuig graag sê, dan het jy meer keuses as diegene wat net “chicken” moet vat. As jy nog jou klerekas kan oopmaak en nie weet wat om aan te trek nie omdat daar te veel klere is, dan het jy meer keuses as diegene wat net een of twee stelle klere op hul naam het.

Hoe minder jou keuses, hoe armer is jy. Daarom dat ons nie die armes nog verder moet verneder deur ons oorskiet kos, meubels of klere wat oor die muur is, keuseloos op hulle af te gooi nie. Jesus sê vir ons in Lukas 14 om ‘n feesmaal aan te lê vir armes, verlamdes, kreupeles en blindes. Terloops, hierdie mense was totaal en al keuseloos in sy dag. Hulle is as onrein beskou en was volledig afhanklik van die versorging van ander. Moenie te vinnig by sulke mense wat min keuses in die lewe oorhet verbystap nie. Verhoog hulle keuses - Maak dit ‘n “chicken or beef” dag vir hulle.

bottom of page