Jy kan Jesus nooit anoniem navolg nie
deur Stephan Joubert “Hier voor die kerkgebou staan iemand wat nie ’n blyplek het nie. “Wat gaan julle hieromtrent doen?” wou iemand weet by ’n kerk waar ek gepreek het. ’n Duisend antwoorde het deur my kop geflits, waarvan die blywende een was dat die persoon sommer haar eie huis moes as eerste opsie moes aanbied. Maar meeste mense wil nie direk betrokke raak nie. Iemand anders moet altyd sulke ongemaklike probleme uitsorteer. Toe ek nog ’n gemeenteleraar was, is bedelaars en armes gedurig na ons huis toe gestuur deur anonieme gemeentelede. Dikwels is ek ook agter die skerms ingelig oor mense wat huweliksprobleme het, of wat in sonde geval het, maar dan met die woorde: “Ons wil assebief nie persoonlik betrokke raak nie.” En tog sê die Here dat onsself altyd die eerste linie van hulp is as Hy iemand oor ons pad stuur. Ons word dan daardie naaste van wie Jesus in Lukas 10 vertel wat moet help. Ja, ons mag wel vir ander mense vra om ons hierin by te staan, maar om die bal net aan te gee en onbetrokke aan te gaan met ons eie lewe, is om die evangelie volspoed te systap. Dit is om God se wil en sy seën mis te loop.