top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wat as Adam dan nie vir Eva kry nie, en andersom?

deur Stephan Joubert Die afgelope twee gesprekke het oor manwees en vrouwees gehandel, en met name oor die rol van man en vrou wat saam die beeld van God uitmaak. Maar wat as vandag se Adams nie ’n Eva raakloop nie, en andersom? Wat van enkelouers en mense wat alleen deur die lewe moet gaan — weduwees, wewenaars, geskeides...? Wel, feit is, die Here het nie bedoel dat ons slegs as getroudes sy beeld kan weerspieël nie. In Matteus 19:11 noem Jesus dat die huweliksopdrag nie vir alle mense bedoel is nie. Hy sê dat daar mense is wat vanweë bepaalde biologiese en geestelike redes kies om nie te trou nie. Sommiges gaan deur die lewe sonder ’n lewensmaat. Vir party is dit ’n tydelike roete, en vir ander ’n permanente een. Hoe dit ook al sy, ons elkeen is in eie reg herskep na die beeld van God. Ons het dus nie ’n huwelik nodig voordat ons ten volle vervuld kan leef nie. Ons is van kop tot tone beelddraers van die lewende God. Christus het ons tot ons oorspronklike plek voor God, en nog meer, herstel. Ons is gekoop en nuut gemaak. Ons belydenis en belewenis dat Christus ons Here is maak die wêreldse verskil. Hy is nou ons identiteit, nie ons afkoms, ons geslagtelikheid, of etnisiteit nie. In Paulus se woorde in Galasiërs 3:28 maak dit nie meer saak of ons man of vrou, Jood of Griek, slaaf of vry mens is nie Christus voeg ons almal nou saam in Hom. Hy is ons lewe. Sy kruis is ons verlede; sy hemelse woning ons toekoms! Nou maak dit nie meer saak of ons ryk of arm, of getroud of ongetroud is om tot Sy eer te leef nie. Ons is die Here S’n. Hy vat ons soos wat ons is en verander ons al hoe meer om sy glorie, sy skoonheid te weerspieël. Goeie nuus, of wat!

bottom of page