Wanneer ons die tyd verkeerd lees...
deur Stephan Joubert Ons weet meer van wat verkeerd is met hierdie tyd waarbinne ons leef as wat alles reg is hiermee. Ons weet nie meer hoe Jesus na die tyd kyk nie; daarom ploeter ons voort soos skape sonder ’n Herder. Ons raak so pessimisties oor al die chaos rondom ons dat ons Jesus se manier van tydlees miskyk. In Lukas 12:56 vermaan Hy die godsdienstiges dat hulle sulke groot lesers van die natuur geword het dat hulle presies weet hoe om die wind, die wolke en die weer te interpreteer, maar steeds nie die nuwe tyd kan lees wat met Jesus se koms aangebreek het nie. Ons eie blindheid vir hierdie nuwe Messiaanse era maak dat ons ook nie raaksien dat Jesus nuwe wyn gebring het saam met nuwe feesklere nie. Daarom wil ons vas en met rouklere rondloop terwyl die Bruidegom hier is om saam met ons fees te vier (Markus 2:18-22). Sulke blindheid versper ons uitsig op Jesus. Dit maak dat ons soos die Emmausgangers saam met Jesus loop sonder om Hom te herken. Die beste manier om die tyd reg te leer lees, is om die evangelies opnuut te lees en te glo. En om die Gees toe te laat om ons oë oop te maak.