top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Blom waar jy geplant is

deur Milanie Vosloo My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle. — 1 Kor 7:24 As kinders van God is ons baie spesiaal. Hy het ons immers peperduur gekoop. Hy het vir ons met sy kosbare léwe betaal. Hoe bevoorreg is ons nie! Wanneer Paulus ’n brief vir die gemeente in Korinte skryf, beklemtoon hy juis hierdie onverdiende genade wat God aan gelowiges bewys. Maar tipies Paulus, draai hy ook nie doekies om oor wat God van gelowiges verwag nie. Meer nog, stel hy dit duidelik in hoofstuk 7 vers 17 dat niemand onder die illusie moet leef dat God – bloot oor die feit dat ons Hom ken – ons lewens en omstandighede noodwendig gaan verander nie. Nêrens beloof God dat Hy ons probleme oornag gaan wegneem, ons van seerkry sal spaar en ons eensklaps uit ons omstandighede gaan neem nie. Inteendeel, skryf Paulus: Elkeen moet sy lewe leef op die plek waar God hom wil hê en daar doen wat God van hom vra. Dit verwag ek oral van al die Christene. (1 Kor. 7:17b) God verwag van ons om as (nuwe) gelowiges doodgewoon aan te gaan met ons lewe, dáár waar ons was of is wanneer ons God se stem hoor. Ja, liewe mens, wanneer die Here jou geroep het, het Hy jou vry gemaak en met sy Gees gevul sodat jy sy wil kan hoor en dit doen. En hierdie wil van God is soms ’n drastiese verandering, ’n lewenskuif of ’n totale ommeswaai in ons lewensgewoontes. Maar dit kan ook wees dat God ’n doel met jou lewe het presies daar waar jy is: in jou huis, tussen jou bestaande vriende, by jou huidige werk, in jou gemeente ... tussen die gewone mense wat elke dag jou pad kruis. Wanneer jy geesvervulde kind van God is, leef jy ánders:

  • Dan luister jy wat God vir jou sê en aanvaar dit as die waarheid. Wat mense sê en doen, is van mindere belang.

  • Dan is dit vir jou belangrik om sy wil te doen. Daarom soek jy sy wil gedurig in sy Woord en deur na sy Gees te luister.

  • Dan is dit vir jou ’n prioriteit om Hom te gehoorsaam – al is dit soms moeilik.

  • Dan is dit ook vir jou maklik om oor Hom te praat en ’n getuie vir Hom te wees presies dáár waar jy elke dag leef.

As vrygekoopte is jy bevoorreg. Jy het God altyd by jou: ook en verál in jou gewone wêreld. Wanneer die Gees van God in jou is, is jy in staat om van ’n gewone lewe iets besonders te maak. Want deur Hom dink, doen, praat en lyk jy ánders. Leef deur Hom, want dan blom jy presies daar waar jy geplant is! So baie dankie dat ek U kind mag wees, Here God. Dankie dat U my wil gebruik soos en waar ek is. Heilig my elke dag sodat ek sal doen wat U vra en sal wees wat U wil hê ek moet wees. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page