Wees ’n draer van hoop
deur Helena Smith As ons as kollegas by die skool saamgesels, kan dit vir die buitestaanders seker soos ’n vreeslike treurmare klink. Ons kan maar baie kla. Die feit is egter, daar is baie dinge in ons land om oor te kla. Vir maande lank was daar gereelde kragonderbrekings en die prys van elektrisiteit het boonop gestyg. Intussen moes ons Gautengers E–toll begin betaal. Die waarde van die rand het versleg en tussendeur het mense hulle werk verloor en ander mense is besig om te skei. Niks bly dieselfde nie en dit veroorsaak dat mense hoop verloor. Daar is niks so kosbaar soos hoop nie. As jy nie hoop het nie, is daar geen vooruitsig in hierdie lewe nie. Ons as Christene weet dat daar net een plek is waar daar hoop is en dit is by God. God verander nooit en sal altyd daar wees. In Psalm 25:3 lees ons dat mense wat op God hoop nooit teleurgesteld sal wees nie. Die uitdaging vir Christene is om by die werkplek en tuis draers van hoop te wees. Leef jou getuienis uit deur sonskyn in ’n bewolkte, hooplose wêreld te bring. In ’n kinderliedjie sing Soekie en die Radikids: “Kom gooi ’n bietjie hoop want die wêreld is so droog.” Die wêreld smag na mense wat hoop en positiwiteit bring. Kom ons stuur daardie negatiewe koffietafel–gesprekke in ’n positiewe rigting en ons praat oor die hoop wat ons in Jesus het. Dat diegene wat hulle lewe vir Hom gegee het, eendag saam met Hom in die hemel sal wees. Wat ’n wonderlike vooruitsig! Kom ons modelleer aan ons huismense en kollegas, om nie hulle hoop te soeke in aardse goed wat kan vergaan nie, maar om dit te soek op die regte plek, by God.