top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Dis regtig net genade alleen!

deur Stephan Joubert Verlede week het ’n paar van ons vriende ’n kort pelgrimstog na Wittenberg onderneem. Elke keer as ek daar kom gryp Maarten Luther se dapper optrede my aan die hart. Hy is een van die min mense wat kon beleef hoedat die hele wêreld verander het gedurende sy eie leeftyd (1483–1546), en ook deur sy toedoen. Luther sal dadelik protesteer en sê dit was alles net genade. Dit alles het begin toe hy sy 95 stellings teen Wittenberg se kerkdeur op 31 Oktober 1517 vasgeslaan het. Van toe af het Luther se reformasie miljoene mense uit die hande van ’n magsbehepte godsdienstige struktuur losgeskeur. Boonop het hy die Bybel ook weer in die hande van gewone mense teruggeplaas. G’n wonder nie dat Luther in 1999 aangewys is as die derde mees invloedryke persoon van die vorige millennium. Twee sake het die onuitblusbare vuur in Maarten Luther se hart brandend gehou — sy liefde vir die Here en sy liefde vir die Bybel. Hy was geen studeerkamerteoloog nie. Ook nie ’n iemand wat die wêreld deur vergaderings, beplanningsaksies of konsensus–politiek wou verander nie. Daarvoor was sy dringendheid en sy liefde vir die Here veels te groot. Luther was ’n profeet. En profete wen nie gewildheidskompetisies nie, want hulle soek nooit middelgrond ten alle koste nie. Na jare se worsteling, en na ’n indringende studie van die Bybel, het Luther ontdek God se genade is meer as genoeg vir ons almal. Hy het ook besef genade het ’n naam en adres — Jesus Christus! Jesus se sterwe en opstanding is onverdunde Goddelike liefde in aksie. Genade is om die Here daar by die kruis op sy allerbeste en allernaaste te ervaar! God se genade is ’n hemelse werkwoord. Genade kos Hom alles. Maar genade is ook ’n menslike ruswoord. Anders gesê, God doen genade en mense ontvang dit gratis, onverdiend, verniet! Boonop ontvang die verkeerde mense genade, diegene wat niks het om dit by God mee te koop of dit self te verdien nie. Genade is bedoel vir alle verlore eiendom van die Allerhoogste. Genade is God se nuwe Genesis. Dis sy van–voor–af oorbegin met elkeen wat ’n slegte Eksodus beleef het. Genade — soos wat Philip Yancey dit eietyds beskryf, is om te besef niks wat ek gedoen het, tans nog doen, of nog in die toekoms gaan doen, kan maak dat God meer of minder van my hou nie. Hy het my in elk geval lief! Goddank vir Luther en elke eietydse ontdekker van God se genade in Christus.

bottom of page