Raak dringend!
deur Stephan Joubert In een episode van ’n ouer Amerikaanse sepie, “The king of Queens,” besoek Doug en sy vrou sy ouers. Hulle vier sy hond Rocky se 28ste verjaarsdag. As Doug wonder hoe Rocky dit reggekry het om so oud te word, erken Doug se ouers dat hy eintlik al ’n paar keer vervang is met ’n hond wat presies soos die eerste Rocky lyk. Om die waarheid te sê, hulle trek nou al by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.” Hierop vra sy vrou: “What do you do with the truth, then?” “We sweep it under the rug, where it belongs!” antwoord sy. Toe besluit hulle almal daar’s net een Rocky en hy is 28 jaar oud. In ons dag word Bybelse waarhede ook onseremonieel onder die mat ingevee. Party mense hou nie van “ongemaklike waarhede” of “inconvenient truths” nie. Die evangelie moet sag op hulle oor val. Niemand moet aanstoot neem nie. Daarom dat daar tans soveel godsdienstige matte in die omtrek is waaronder die waarheid weggesteek word. Irrelevansie wen wanneer die Bybel sagter word as wat die Here dit bedoel het om te wees. Nog erger, in sulke omgewings gaan mense ongestoord verlore! Wag, voordat jy my verkeerd verstaan, ek bepleit nie ’n liefdelose uitleef van die evangelie nie. Ons mag nie taktloos met ons “reguit” woorde bo–oor ander mense stoomroller nie. Maar aan die ander kant mag ons ook nie “people pleasers” wees met ’n “askies–dat–ek–vir–Jesus–leef” houding nie. Ek het agtergekom die verskil tussen mense wat die waarheid liefdevol uitleef en diegene wat meen hulle is voltyds in die Here se geheime diens, kan in een woord opgesom word: dringendheid! Meer korrek, mense wat begryp hulle is voltydse navolgers van Jesus het ’n heilige dringendheid in hulle harte. Dit maak dat hulle daagliks kortpad kies agter hulle Heer aan. Hulle loop aanhoudend saam met Hom in die rigting van nuwe verhoudings en genesende dade! God plaas deur Sy Gees ’n diep rusteloosheid in elkeen wat Hom ken. Dit word of aangewakker of onderdruk deur onsself. Wanneer ons toelaat dat die Gees ons rusteloos maak oor al die onreg, goddeloosheid en verlorenheid rondom ons, kan ons nie stilsit, of dit aan ander oorlaat om iets te doen nie. Nee, dan moet ons elke aand voor slapenstyd iets in Jesus se Naam aanpak om die wêreld andersom te laat draai. Dan moet daar vandag nog gebid word vir mense in nood. Dan moet daar voor sonsaktyd ’n stukkie brood uitgedeel word vir hongeriges. Dan moet daardie matte waaronder “ongemaklike waarhede” ingevee word uitgeskud word voordat die son vanaand oor die waarheid ondergaan. Ons het net een dag tot ons beskikking om aktief én aktueel vir die Here te leef. Daardie dag se naam is vandag! Die regte dringendheid vir vandag is daardie soort wat tegelyk rus en rusteloosheid in ons eie harte bring. Dringendheid dryf ons vandag na God toe om by Hom skuiling en veiligheid te vind. Maar dit dryf ons ook om agter Jesus aan te stap op soek na sy gunsteling mense: verlorenes, verdwaaldes, verbitterdes, geldverslaafdes, stukkendes, stagnerendes...