top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Bybelse verhale is meer as ontsnappingsroetes

deur Stephan Joubert Die Amerikaanse skrywer, Neil Gaiman, vertel van sy tannie Helena wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog die ghetto van die Nazis in Warschau oorleef het. Die Jode is verbied om boeke te lees. Helena het egter haar lewe in gevaar gestel deur verhale te deel tydens klasse wat sy elke dag vir 20 Joodse meisies gehou het. Elke aand het sy skelm vir ’n uur lank “Gone with the Wind” gelees. Dan het sy die volgende dag vir die dogters vertel wat sy gelees het. Gaiman het later vir Helana gevra hoekom sy haar lewe gewaag het vir ’n storie. Toe antwoord sy: “Because for an hour every day, those girls weren’t in the ghetto; they were having adventures; they got away.” Dink net watter krag is daar opgesluit in al die lewensverandernde verhale in God se Woord. Dit is meer as net ontsnappingsroetes; dit is padwysers na God toe. Dit neem jou elke keer na God se wêreld toe en leer jou in dieselfde asem hoe om Sy wêreld, sy koninkryk, hier te laat posvat. Veral Jesus se gelykenisse bied eindelose nuwe maniere om God se koninkryk nuut te hoor en vars te laat gebeur. Luister asseblief na die regte stories en leef!

bottom of page