Jy — ’n voorbladmens?
deur Milanie Vosloo Julle wat my volgelinge is, is so kosbaar vir My... Ek gaan vir julle elkeen ’n spesiale plek gee daar in die splinternuwe wêreld wat God aan my sorg toevertrou het ... Julle sal die eregaste aan my tafel wees en saam met My eet en drink. — Lukas 22:28a, 29b, 30b Ons beleef almal tye wanneer ons onsself met ander vergelyk en dan stilweg wonder wie en wat ons is. Dis dan so maklik om geïntimideer te voel deur voorblad—gesigte wat perfek lyk omdat ’n rekenaar hulle plooivry, sproetvry en asemrowend mooi gemaak het. Om verder nog te lees hoe hierdie mooi mense die wêreld met hul talente en sjarme oorwin, kan inspirerend, maar soms ook demoraliserend wees. Tog bestaan die lewe uit gewone mense wat selde raakgesien word, maar wat ’n reuseverskil aan ander se lewens maak. Ester was een van daardie vroue wat maklik so kon gevoel het. Sy was immers maar net één van vele vroue van die koning. Sy was so “gewoon“ dat sy nie eers haar man kon besoek sonder dat hy haar amptelik ontbied het nie. (Ester 4:11) Tog leer hierdie “gewone” vrou ons hoe om — selfs in ons gewoonwees — uit te styg tot ’n kleurryke mens:
Sy het haar vrouwees gekoester en haar vrouwees versorg en aantreklik gemaak. Dit het haar selfvertroue gegee om as gewone vrou, óngewone dinge te doen.
Sy het régtig vir ander omgegee. Sy het die moed en deursettingsvermoë gehad om by die koning vir haar volk te gaan pleit. Deur hierdie daad van haar red sy — ’n gewone vrou — duisende mense se lewens.
Sy kon met oorgawe leef. Nadat die koning haar volk se lewens gespaar het, reël sy ’n heerlike fees — die Purim—fees word tot vandag toe deur die Jode gehou.
Ester was ’n tipiese voorbladvrou van haar tyd. Joernaliste sou haar as ’n kleurryke vrou beskryf het vanweë haar beeldskoonheid, intelligensie en vasberadenheid. En tog ... was sy net so gewoon soos ek en jy. Maar sy het gekies om dit wat sy gehad het, met oorgawe te gebruik. Dalk gaan ons nooit die voorreg hê om op ’n tydskrif te pryk nie, maar niks verhoed ons om as voorbladmens te leef nie. Dit doen ons as ons dit wat ons is en het, na die beste van ons vermoë gebruik om ons doel op aarde uit te leef. En ons doel is om ons Vader deur ons hele menswees te verheerlik. As jy dit wat God jou gegee het, tot sy eer gebruik, dan is jy ’n voorbladvrou: dalk nie hier op aarde nie, maar verseker in die hemel! Onthou: géén mens is gewoon in God se oë nie. Ook nie jy nie! Vader—God, help my om dit wat ek is en kan doen, raak te sien, te waardeer en tot u eer te gebruik. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM