top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jesus maak ons nie maar net brand–bestand nie

deur Stephan Joubert (Hierdie is ’n verkorte artikel wat in die JUIG! tydskrif verskyn het.) ”Hoekom staan ons nie op vir ons geloof soos ander godsdienste nie?” sê–vra iemand. Voordat ek kan antwoord, sê hy: “Hulle is toegewyd; daarom vat hulle geen nonsens van hulle onderdane en die res nie.” Toe die vraagsteller vir ’n oomblik asem skep, antwoord ek: “Jesus het nie gekom om mense reg te sien nie. Hy het gekom om ons te dien en om sy lewe weg te gee as ’n losprys vir ons almal.” “Ja, maar ons moet die Here se eer verdedig. Christene is pleinweg slap…” gaan die strydlustige voort. “Christenskap is nie ’n militante geloof nie,” antwoord ek. “Die Here het ons nie in die eerste plek beveel om op te staan vir Hom nie, maar om goed te doen in sy Naam. Het jy al ooit 1 Petrus 2:15 raakgelees?” kry ek toe my eie vraag in. “Daar word ons beveel om goed–doeners te wees vir Christus. Ons wapens is nie stokke of skerp woorde nie, maar handdoeke waarmee ons ander se voete afdroog. Ons wapens is bekers koue water wat ons selfs vir ons vyande aandra,” verduidelik ek. “Dit kos selfverloëning om Jesus se dienende navolgers te wees. Om doelbewus te kies om nie op die roete van intimidasie of self–gelding te volg nie, is om op die hoofpad van Christus te leef. Op hierdie pad van nederigheid skyn die lig van die evangelie die helderste.” Na die tyd dink ek daaraan dat Jesus nooit op ’n dominerende manier met mense omgegaan het nie. Hy het nie orals “bootcamps” opgerig waar mense met vrees geïntimideer moet word om te glo en reg te leef nie. Sy doel is om almal wie in Hom glo te omvorm tot voltydse dissipels wat op sy roete van diens, liefde en goed–doen leef. Dit was nooit net Jesus se plan om mense bloot net van iets sleg (= die ewige vuur) vir iets goed (= die hemel) te red nie. Hy het veel meer as dit kom doen. Jesus het ons kom vrymaak om hier en nou vir Hom as Here te leef. Die probleem is dat Jesus slegs party mense se Verlosser is en nie ook die Here van hulle ganse lewe nie. Hy is ’n blote hemelse Diensverskaffer wat aan hulle ’n blyplek in die hemel moet waarborg. Hulle is dus brand–bestand; maar dis omtrent al. Vir die res verskil hulle gedrag en taal nie veel van die res van die samelewing s’n nie. Omdat hulle nie geleer het om Jesus as Here in hulle alledaagse lewe te dien nie, dink hulle steeds in magsterme en word hulle deur selfsugtige behoeftes en selfs vrees aangedryf. Die vraag wat ons almal vir onsself moet afvra, is of Jesus regtig ook ons Here is. Dit is wonderlik om te weet Hy is ons Verlosser. Maar Hy moet ook ons Here wees! As ons in Jesus as ons Here glo, dan leef ons die beginsels volspoed en luidkeels agterna wat Hy vir ons voorgeleef het. Dan ken ons Hom graag as Redder en as Heer.

bottom of page