top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Smarties vir jou siel

deur Milanie Vosloo Ek het daarom besluit dat wat die mens eintlik nodig het, vreugde is. Niks is beter as om te eet en te drink en die lewe te geniet nie. Dit kan die mens help om die sinloosheid te verwerk van hierdie lewe wat God ons gegee het. — Prediker 8:15 Kleintyd se bederf sal altyd deel van ons verlange–na–gister bly. Daardie verrassing–koekies in die kosblik, ma wat die sagte kombers om jou knus met ’n laaste nagsê–soen, ’n weggesteekte paaseier, kommervrye speel– en lagtye, luilekker vakansies ... of sommer net ’n iets soos ... ’n pakkie Smarties. Nou is ons groot. En is óns die mense wat bederfliefde aan almal — behalwe onsself — uitdeel! Weet jy, liewe vrou, God wil hê dat jy die lewe geniet. Hy wil sien en hoor dat jy vreugde vind in jou menswees en jou vróúwees. Hy wil sien dat jy vervulling vind in die sleur van die gewóne lewe en dat jy blydskap ervaar in die blote feit dat jy lééf! Ja, jou Vader sal graag wil sien dat jy selfs in jou verantwoordelike volwasse lewe ook die lewe met oorgawe sal geniet. Besluit om gereeld vir jóúself pakkies helderkleurige Sielslekkertes te verpak waaraan jy kan peusel wanneer die lewe jou sy vaal kant wys:

  • Leef liefde! Dit maak nie saak wat die vraag is nie, die soet antwoord in enige situasie is altyd liefde. Deel bloedrooi Smartie–liefde mildelik aan almal rondom jou uit. Jy sal vind dat jy daardeur verryk word.

  • Skryf ’n slag ’n pienk–gekleurde liefdesbrief vir jouself waarin jy vertel waarom jy ’n spesiale vrou is en waarom jy jouself liefhet!

  • Laat toe dat die Vader jou elke dag van voor af splinternuut maak sodat jy lewensvreugde soos ’n vars–groen lemmetjie sal belééf.

  • Bid gereeld dat die Gees sy teenwoordigheid soos vrolike, ligblou ballonne om jou hart sal plaas sodat jy vrede sal ervaar en vir ander sal uitdeel.

  • Wees rustig oor die bruin–swart van pyn en seer wat soms jou lewe kruis in dié wete dat die harde buitekant van swaarkry mettertyd wegsmelt in die soet van herinneringe, ervaring en berusting.

  • Laat die geel–oranje strale van elke nuwe môre jou hart met verwagting, hoop en moed vul.

  • Les bes: Leef soos ’n ongekunstelde kind in die wete dat die Vader vir jou — net soos vir elke pers–wit lelie in die veld — sal sorg.

Thomas Chalmers het gesê: Die heerlike essensiële bestanddele van vreugde is: iets om te doen, iemand om lief te hê, en iets om voor te hoop. Jou siel het spesiale bederf nodig. Al is jy groot! Here Jesus, bederf my elke dag van my lewe soos ’n kind! Help my om te onthou dat U régtig my Vader is. Dié alleswetende Pa wat net die beste vir sy kind wil hê. Leer my om met oorgawe te leef deur die heerlike nabyheid van u Gees. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page