top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ligloop vir dwase — regtig!

deur Stephan Joubert Sê nou ons sou net een boek in die Bybel gehad het, naamlik Spreuke, wat sou anders wees aan ons manier van glo in God? Wel, ’n klompie dinge, want Spreuke ken nie ’n onderskeid tussen ’n religieuse wêreld en ’n gewone wêreld nie. Hier’s geen sprake van ’n formele godsdienstige sisteem, kompleet met geestelike leiers, byeenkomste, endiesmeer nie. Spreuke se onderskeid tussen mense is ook nie daardie een wat die meeste van ons navolg nie. Ons onderskei naamlik tussen gelowiges en ongelowiges, terwyl Spreuke primêr tussen wyses en dwase onderskei. Die dilemma hiermee is dat ons onsself soms aan die kant van die dwase kan bevind. Daarom dat ons Spreuke se wysheid moet baasraak en aanhoudend moet inoefen.

  • Wysheid is... eerbied vir die Here (1:7). So eenvoudig soos dit.

  • Wysheid is... ’n nadenkende, versigtige manier van leef voor God en tussen ander wat gepaard gaan met ’n leerbare gees. Daarom luister mense wat wysheid nastreef na die onderrig van wyses (2:1). Hulle streef wysheid na meer as goud en silwer. Wysheid waarborg guns voor God en mense (3:4) en ’n gelukkige lewe (22:1).

  • Wysheid is... vrygewigheid en hardwerkendheid. Wyses gee om vir armes. Ook werk hulle baie hard omdat hulle weet dat luiaards op die voorstoep van dwaasheid rondspeel (15:19).

  • Wysheid is... om die eienskappe van dwase te ken en hulle gedrag gedurig te systap. Wyse mense weet onder andere dat dwase wraaksugtig (22:24) en suinig is (23:6 ). Dwase jaag geld na (15:16). Hulle is losbandig (5:8–9) en drink te veel (23:31). Dwase dink ook nie voordat hulle praat nie (15:28) en luister nooit na goeie raad nie (23:9). Hulle woorde is vol haat, skerpheid en geweld (10:7; 15:1); daarom verwoes hulle ander se lewens met hulle woorde (11:9). Skinderpraatjies is ook tipies van dwase (10:18). Hulle lap graag ander se geheime uit (11:13) en lei mense in ’n lokval met hulle skynheilige woorde wat diep seermaak (12:6).

Spreuke sê oor en oor dat wyses moet ligloop vir dwase. Dwase is onleerbaar, nogtans mors gelowiges baie tyd om dwase te probeer onderrig en ’n pad met hulle te probeer loop. Dwase kry dit baie goed reg om hulle geestelike leiers, vriende, familie en kollegas te laat skuldig voel en al hulle aandag en tyd te steel. Spreuke se roete is om jouself met wyse mense te omring. Wyses is diegene wat eerbied het vir God (2:5); ’n reguit pad loop; kennis opslurp (2:10), en ’n sondige leefwyse systap (2:12–16). Wysheid is gelyk aan ’n beproefde lewe voor God en tussen mense (13:14).

bottom of page