top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Leiers en Angstigheid

  • Sep 9, 2015
  • 3 min read

deur Johan Beukes Soms bring ons baie angstigheid en ongelukkigheid oor onsself. Ons houding teenoor die lewe het ’n groot invloed op die intensiteit van hierdie belewenis. Die onderstaande is ’n voorbeeld van ’n houding wat angstigheid kan verhoog: Alles wat ek het is die vrug van MY arbeid en harde werk. Daarom moet ek alles in my vermoë doen om dit net vir myself te hou en te beskerm. In Matteus 6:25–33 is daar ’n uitnodiging tot ’n gesonder houding opgesluit: “Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere. Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie meer werd vir God as al die voëls in die hemel. Daarom help al julle bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele dag verleng nie. Alles behalwe! Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Kyk gerus ’n bietjie in die veld hoe mooi die lelies lyk wat daar groei. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so deftig te lyk nie. Tog was nie eens daardie skatryk koning Salomo ooit so mooi aangetrek soos een van hulle nie. As God soveel aandag gee aan hoe die veldgras lyk, wat vandag nog groei en môre weer dood is, sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou dan op om so kleingelowig te wees! Hy sal sorg dat julle genoeg het om aan te trek. Hou op om te sê: ‘Wat gaan ons vandag eet en drink?’ of: ‘Wat gaan ons vandag aantrek?’ As julle dit doen, tree julle op soos mense wat God glad nie ken nie. Julle het mos ’n Vader in die hemel wat presies weet wat julle nodig het. Hy sal sorg dat julle dit alles kry. Stel God se koninkryk eerste. Doen net daardie dinge wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los môre se probleme vir die dag van môre. Van probleme het elke dag immers oorgenoeg. Leef vandag voluit vir God!” Richard Foster stel drie innerlike houdinge voor wat jou van angstigheid kan bevry. Houding 1Alles wat ek het is ’n geskenk. God het reeds alles gegee wat ek nodig het (Energie, Lug, Water ens.) om te doen wat ek moet doen. Houding 2Ek het die verantwoordelikheid om dit wat God gegee het te bestuur. Ja, dit is nodig om die alarm aan te skakel en die deure te sluit maar die diepliggende oortuiging is dat Hy sy goed beskerm. Houding 3Alles wat ek ontvang het is ook tot beskikking van ander . Dit is vir my makliker om te deel omdat ek weet Hy sal aanhou sorg. Fokus vraag: Hoe moet my lewenshouding verander om die koninkryk beter of op ’n ander manier te soek? RICHARD J. FOSTER. “THE DISCIPLINE OF SIMPLICITY.” IN CELEBRATION OF DISCIPLINE: THE PATH TO SPIRITUAL GROWTH, 86–89. HARPERCOLLINS, 1998.

 
 
 

Comments


KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page