top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Kollegas dra mekaar se laste

  • Sep 9, 2015
  • 2 min read

deur Helena Smith Galasiërs 6:2: “Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan God se liefdeswet.” (NLV). Dit is so dat ’n mens die grootste gedeelte van jou dag en ja, van jou lewe by die werk deurbring. Jou werkplek kan vir jou ’n langdurige lyding wees, of dit kan ’n positiewe omgewing wees waar kollegas mekaar se laste dra. Ek is van mening dat dit ons as Christene se verantwoordelikheid is om ’n positiewe atmosfeer by die werk te skep. Ek is baie gelukkig om omring te wees deur positiewe kollegas, waarvan baie deur die jare ook vriendinne geword het. Ek kan dink aan baie kere waar my Christen–kollegas my laste gedra het. Ek dink aan ’n vinnige gebed op die stoep. ’n Oproep na werk, net om te hoor of alles reg is. Dan ook bakke kos wat aangedra is, toe ek aangesterk het na ’n operasie. Ons kan by wildeganse ’n positiewe les leer. Op hulle lang migrasie–vlugte, vlieg hulle altyd in ’n V–formasie. Dit help om die wind af te keer sodat hulle vinniger na hulle bestemming kan vlieg. Die wildegans wat heel voor in die V–formasie vlieg, word gereeld afgelos omdat die voël die hardste in die groep werk. Die makliker posisies word toegeken aan die jong en ou wildeganse sodat hulle nie so hard hoef te werk nie. By die werk moet ons ook soos wildeganse saamwerk en na mekaar uitreik en vir mekaar omgee. Wat ’n wonderlike plek sal jou werksomgewing nie wees, as almal vir mekaar omgee en mekaar se laste dra nie. My uitdaging aan jou is om die positiewe invloed te wees en ’n voorbeeld te stel. Die werklike uitdaging lê ook daarin om nie net die mense van wie jy baie hou se laste te help dra nie, maar om ook uit te reik na daardie kollega wat soms die wit waks uit jou irriteer. Moeder Teresa het die volgende gesê: “Moet nooit dat iemand wat in jou geselskap was, van jou af weggaan sonder dat hy of sy getroos of gelukkiger voel nie. Wees ’n lewende uitdrukking van God se liefde.”

 
 
 

Comments


KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page