God waarborg nie “steak’ nie, maar brood
deur Stephan Joubert Op ’n dag het God sy profeet Elia na ’n arm weduwee in Sarfat gestuur, soos wat 1 Konings 17 vir ons vertel. Hierdie vrou was besig om haar en haar seun se “afskeidsete” voor te berei uit die laaste bietjie meel en olyfolie wat sy oorgehad het. Dit was haar finale aardse ete voordat sy en haar kind van honger sou sterf. Maar God het haar nood raakgesien in daardie tyd van hongersnood. Daarom dat Hy vir Elia gestuur het om vir haar die goeie nuus mee te deel dat haar meel en olie nie sou opraak totdat die hongersnood in die land gebreek is nie. Vandag nog waarborg God daaglikse brood aan Sy kinders. Party mense hoor Hom verkeerd op hierdie punt. Hulle dink God skuld hulle “steak” en poeding. Hulle kla met twee witbrode onder die arm hoe swaar dit gaan met hulle terwyl hulle hangkaste vol klere is, en hulle yskaste propvol kos. Trouens, hulle het so baie kos dat hulle dit in spense en yskaste wegpak, en soveel klere dat dit hangkaste vol lê. Hoor hier, God se belofte en waarborg is daaglikse brood, nie luukshede en oordaad nie. Vandag nog verbind God Hom aan hierdie belofte.