Nuwe filters
deur Tom Smith My oorlede ma het vir ons as kinders die GIGO beginsel geleer, "Garbage In — Garbage out". Nou is dit ons beurt. Onlangs speel ons kinders Wii en dans lekker saam met die gewilde popsterre voor die TV. Vanuit my studeerkamer luister ek na die woorde en dink toe dadelik aan die GIGO beginsel. Toe wonder ek hoe om ons kinders te beskerm teen al die negatiewe 'garbage' wat in ons kultuur ronddryf. Dit tref my toe dat my ma my nie wetties voorgeskryf het wat in en uit is nie, maar dat haar beginsel insigself ’n filter in my lewe geword het. Toe ek GIGO geleer het, het sy die pad na onderskeiding vir my gebaan. Toe vra ek vir die kinders, "Wat sing hierdie mense?" Die kinders besluit toe om fyn na die woorde te luister en sê toe self, "Dit is nie so nice nie", toe verduidelik ek vir hulle GIGO. Hierdie is natuurlik wat Paulus op ’n pragtige manier aan die gemeente in Filippi leer, “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.” — Filippense 4:8-9 As ouers het ons die wonderlike voorreg om ons kinders te help om filters te ontwikkel en hulle aandag te fokus op die mooi in die lewe. Ons kan hulle help om die kreatiwiteit van die Skepper raak te sien en ook uit te leef. As ouers is dit vir ons ook belangrik om die GIGO beginsel te leef. Ons het ook nuwe filters nodig. Hierdie maand is die digter TT Cloete oorlede en in een van sy gedigte help hy ons juis om die regte filters te ontwikkel, God die digter daar is meer poësie in die sneeuvlokkie as in die letterkunde en baie meer poësie in die miskruier in die toktokkie in die meteorologie en entomologie in die moremis en in die bergpiek die horison wat in die hemel wegraak in die rooswolk is daar baie meer liriek die aarde is deur ’n digter gemaak T.T. Cloete (1924) uit: Driepas, Tafelberg Uitgewers, 1989)