Konfrontasie: Is ek ’n termometer of ’n termostaat?
deur Alet Gardner Wanneer 1 Petrus 4:8 (Amplified Bible) leer: Above all things have intense and unfailing love for one another, for love covers a multitude of sins [forgives and disregards the offenses of others], betrap ek myself van tyd tot tyd dat ek maklik besorg raak dat, wanneer ek iemand se sonde of foute “met liefde bedek”, ek eintlik net besig is om sy foute te fasiliteer of sy sonde onder die mat in te vee. Totdat Matthew Henry my reggehelp het in sy kommentaar op hierdie tameletjie-vers: Wanneer ek iemand se sonde met liefde bedek, beteken dit nie dat ek dit goedpraat nie, maar dat ek dit nie aan groot klok hang nie — dat ek die persoon wel liefdevol kan konfronteer. Ek moet net besluit of ek in die proses ’n termometer of termostaat gaan wees. Wanneer ek met 2 Tim 1:7 (Amplified Bible) se Gees van krag en liefde en “calm and well-balanced mind, and discipline and self-control” optree, sal ek in staat wees om ’n termostaat te wees wat ’n baie groter invloed het in ’n konfliksituasie as ’n termometer. Waar ’n termometer net reageer op wat rondom hom gebeur, beïnvloed/beheer die termostaat die temperatuur. Ek is self is nie baie lief vir konfrontasie nie, maar moes leer om te kan onderskei wat werklik belangrik is en om nie toe te laat dat my dun velletjie verhoudings laat skeefloop nie. Die Here het toegelaat dat ek oefening kry hierin deur ’n hele paar skynbaar onemosionele (en tog sensitiewe en soms selfs plofbare) reisgenote op my lewenspad te gee. Ek het ontdek dat dit my baie help wanneer ek besef dat om God te gehoorsaam baie belangriker is as om my pyn en teleustelling oor mense se optrede te vertroetel. Met vriendelike, respekvolle woorde kan ek onreg en slegte situasies hanteer, en kan ek iemand reguit konfronteer wanneer nodig. So was dit op ’n dag nodig dat ek moes kies om nie te skinder of ’n wrok te koester nie, maar om vir my dierbare skoonma te vra om asseblief nie in te meng met my kinders se opvoeding nie — dit breek my gesag af en maak die kinders opstandig teenoor haar. Die gevolg was ’n hegter verhouding tussen ons twee tot die dag wat ek haar op haar sterfbed moes versorg. Om ’n vredemaker te wees beteken nie om ten alle koste die vrede te bewaar nie, maar om met die krag en outoriteit wat God my gee uit my gemaksone te tree en aktief daaraan te werk om vrede te maak en verhoudings te bou. Dit beteken nie noodwendig dat ek die ander persoon se opinie of optrede gaan verander nie, maar dat ek vanuit ’n onbeperkte bron van krag en liefde, insig en wysheid konflik kan aanspreek en die resultate aan God oorlaat. Soos iemand eendag wyslik gesê het: “You love him, I will change him.” Per slot van sake het Jesus self gesê: Salig is die vredemakers. Matteus 5:9 Levitikus 19:16-18 Spreuke 15:11,14