Slaap, daardie wondersoete ding
deur Stephan Joubert ’n Oom vertel my eenkeer hoedat iemand in die kerkbanke langs hom aan die slaap geraak het. Later het hierdie geloofstryder begin snork. Toe die oom hierdie rustende saggies in die ribbes pomp, mompel hy so ewe: “Ek draai nou om, skat.” Ek wou nie weet of dit net ’n grappie was nie. In elk geval, slaap is ’n belangrike deel van ons lewe. Slaap jy goed? Of laat jou probleme jou snags wakker lê? Dan’s dit hoogtyd dat jou geloof ’n impak maak op jou manier van slaap. Hoor net wat skryf Dawid: “In die aand kan ek gaan lê sonder om rond te rol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker,want ek weet die Here sal my krag gee om my probleme op te los” (Ps 3:6; Die Boodskap). Dinge soos bekommernis en oorvol programme drink dikwels al die brandstof in jou lewenstenk op. Elke aand val jy poegaai in die bed, net om soggens weer doodmoeg op te staan. Gelukkig is God altyd wawyd wakker. Wanneer jou knieë swik en jou kragte ingee, bly Hy sterk. Nooit sluimer Hy in nie. Nooit word Hy moeg nie. Boonop beloof die Here aan elkeen wat op Hom wag nuwe krag! As jy dus vandag aan die einde van jou kragte is, dan het jy meer as ’n dosis vitamines of ’n vinnige wegbreek-naweek nodig. Jy het God se nuwe krag nodig. Klop gerus aan by sy hemelse deur. Jou daaglikse porsie hemelse krag wag daar op jou. Gaan haal dit dadelik af in die Naam van Christus. Vertrou ook die Here om jou probleme te dra. Dan sal jou laste jou nie langer van ’n kosbare nagrus beroof nie.