Skryf jou eie leef-psalm
deur Stephan Joubert Dawid se psalms was nie maar net ’n klomp mooi versies wat hy saamgestel het in die rustigheid van sy paleis nie. Die inspirasie agter ’n hele paar psalms was sy vlugtogte voor vyande, asook sy eie vrese en sondes. Ek wonder of Dawid soms ook gemaak het soos die Russiese Nobelpryswenner, Alexander Solzhenitsyn (1918-2008) toe hy na ’n Gulag of strafkamp gestuur is na sy kritiek op Stahlin. Volgens een oorlewering sou hy sy bekende gedig “Pruisiese Nagte” daagliks op ’n stukkie seep neergeskribbel het. Dan sou hy dit gememoriseer het voordat hy later die seep gebruik het. In elk geval, die Psalms is gebore in die pyn, gevegte en oorwinnings van die regte lewe. Mense se diep seer en uitbundige vreugde, hul soeke na God en hulle rus aan sy voete, was die boumateriaal vir die Psalms. Hier ontdek jy God elke keer vars en relevant. Daarom dat dit hoogtyd is om ’n psalm van jou eie te skryf. Niks keer jou om jou eie lewenspsalm op papier neer te pen en aan God op te dra nie. Trouens, dit sal jou help om opnuut te ontdek die Here is jou Redder wat selfs in die dag van onheil naby is. Dit sal jou ook leer om jou seëninge nog meer te tel.