Nie soseer: “gaan wees kerk” nie. Eerder: “gaan wees lig”
deur Stephan Joubert Sê Paulus, Petrus, Johannes of enige ander Bybelskrywer ooit vir ons om te gaan kerkwees in die wêreld? Toe iemand onlangs dit vir my vra, het ek gou my Griekse leksikon uitgehaal en weer gaan kyk na al die tekste waar “ekklesia” (die Griekse term vir kerk) voorkom in die Nuwe Testament. Daar is 115 verwysings na kerk, waarvan 66 keer by Paulus en slegs drie keer in Matteus. “Ekklesia” dui altyd op ’n versameling van gelowiges wat byeen is om die Here te dien; om geloofsgemeenskap te beleef en om te bid, soos wat Handelinge vir ons uitwys (Hd 5:11; 12:5; 14:23;18:23). Ekklesia is die sambreelterm vir gelowiges wat op verskillende maniere byeen is as die nuwe volk van God (Hd 11:22; 26; 13:1). Kerk, as ’n versameling van mense wat bely Jesus is die Here, het ook ’n sigbare band met ander plaaslike kerke — as bewys van die eenheid van God se volk regoor die aarde (Hd 15:3–4; 22). Tydens verskillende samekomste van God se ekklesia bou gelowiges mekaar op in hulle geloof (Hd 15:41; 16:5). Terselfdertyd is daar leiers of ouderlinge in elke plaaslike kerk wat sorg vir die suiwerheid van die evangelie in hulle midde (Hd 20:17, 28). Kerk is nooit indiwidualisties nie, maar kollektief. Kerk is immers die sigbare familie van God en nie maar net ’n klompie indiwidue wat op hulle eie probeer kerk wees nie. Daar waar God se volk byeen is, daar is kerk! Daar gebeur kerk. Kerk is sigbaar waar gelowiges eredienste hou; waar selgroepe saamkom; waar gelowiges gesamentlik armes dien en uitreik; ensovoorts. Kerk het verskillende gesigte en gestaltes, maar kerk is altyd en orals ’n familie van gelowiges wat deur hulle belydenis aan God en aan mekaar vasgebind word. Wat dan van indiwiduele gelowiges se opdrag na buite? Hoe druk die Nuwe Testament dit dan uit? Wel, Jesus sê in Matteus 5 ons moet sout en lig wees in die wêreld. In Lukas 10:9 hoor ons ook dat ons die koninkryk van God moet bekendmaak. En in Matteus 28 verneem ons dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Diegene wat Hom daar as Heer leer ken, moet ons dan begelei om deel van die ekklesia, die sigbare kudde van God, te wees. Kerk is nie geboue of instellings nie. Kerk is ook nie ’n klomp “lone rangers” wat iewers op hulle eie probeer kerk wees, of wat niks voel vir ander kerke nie. As jy dus net op jou eie probeer kerk wees iewers in die wêreld sonder om iewers in ’n plaaslike geloofsfamilie geanker te wees, mis jy ’n groot deel van die kerk.