Stories het ’n bepaalde vorm, maar dit gee ook vorm aan ons lewe
Die bekende skrywer, Neil Gaiman, vertel iewers van sy Joodse tannie Helena wat die berugte ghetto in Warschau en die konsentrasiekampe van die tweede wêreldoorlog oorleef het. Toe hulle vroeër in die ghetto opgesluit was, is hulle deur die Nazis verbied om boeke te lees. Trouens, diegene wat met boeke in hulle besit gevang is, het die risiko geloop om summier doodgeskiet te kon word. Helena het egter haar lewe in gevaar gestel deur verhale te vertel tydens sogenaamde naaldwerk klasse wat sy met 20 jong Joodse dogters gehad het. Dit was nadat sy eers vir hulle wiskunde en Engels geleer het. Helena het haar eie huisie se venster swart geverf sodat sy in elke aand “Gone with the Wind” vir ’n uur lank kon lees nadat iemand 'n Poolse vertaling in die geheim vir haar gegee het. Dan het sy weer die volgende dag vir al die dogters vertel wat sy die vorige aand gelees het.
Gaiman sê dat hy eendag vir sy tannie gevra het: “Why? Why would you risk death — for a story?” Toe antwoord Helena, “Because for an hour every day, those girls weren’t in the ghetto — they were in the American South; they were having adventures; they got away.”
Gaiman vertel dat vier van hierdie twintig meisies die oorlog oorleef het. Baie jare later het Helena een van hulle weer raakgeloop toe hulle al baie oud was. Dadelik het hulle begin gesels en vir mekaar vertel hoedat “Gone with the wind” hulle hoop en anker was.
Stories (die regte soort, bedoel ek) is nie maar net ’n ligte tydverdryf nie. Die regte stories is ontsnappingsroetes. Dis maniere om in jou kop en hart weg te kom uit daardie monotone lewensritmes wat soms dreig om jou in te sluk. Die lewensveranderende verhale in God se Woord is egter veel meer as dit; dit is padaanwysers om jou te help koersvat Godwaarts. Stories sluit deure van hoop oop. Dit laat wêrelde propvol nuwe moontlikhede ontvou.
By Jesus leer ons dat stories ruim vensters op God oopmaak wat ons begelei om reg te leef in Sy teenwoordigheid. Jesus se eie gelykenisse nooi ons elke keer uit om deel te word van Sy lewe en sy verhale. Dit bied aan ons eindelose nuwe maniere om God se koninkryk te laat gebeur. Luister asseblief na die regte stories en leef!