Toe nie: “leer ons preek” nie, maar “leer ons bid”
deur Stephan Joubert Jesus se dissipels het Hom nooit gevra: “leer ons preek,” of: “leer ons hoe om goeie geestelike leiers te wees” nie. Nee, hulle versoek aan Jesus in Lukas 11 is: “Leer ons bid.” En dis nie asof hulle tot op daardie stadium nog nooit gebid het nie. Of nie reeds baie gebede aangehoor het nie. Nogtans weet hulle gebed is ’n lewenslange leerskool. En wie beter is daar as Jesus Self wanneer gebedsonderrig ter sprake is. By Jesus leer hulle ’n eenvoudige maar lewensveranderende gebed aan — die Ons Vader (Lukas 11:2-4). Hier leer Jesus dat gebed vier ononderhandelbare boustene het: a. Lof en aanbidding. Alle gebed gaan heel eerste oor God. Gebed is om voor God te buig. Hy is in die hemel en ons op aarde. Gebed maak ons klein sodat God groot kan wees. Gebed is hoe ons ons bewondering vir God teenoor God in vrolike taal uitdruk. b. Wettige daaglikse behoeftes. Wanneer ons vir onsself bid, dan vra ons God om in ons basiese lewensbehoeftes te voorsien. Nee, ons bid nie op selfsugtige manier vir onsself of vir ander nie. Sulke gebede val in elk geval op dowe ore soos wat Jakobus 4 leer. Ons bid vir ons daaglikse brood. c. Vergifnis. Gebed is die diepste uitdrukking van ons verhouding met God. Omdat ons weet dat ons soms droogmaak en ongehoorsaam aan Hom is, is gebed ook die geleentheid waar ons dit opreg bely. Ons sit ons oortredings aan Christus se voete neer en ons hou op om dit te doen. Ook vra ons dat ons met dieselfde harte van vergifnis as dié van ons Hemelse Vader teenoor mense rondom ons sal leef. d. Systap versoeking. Die Bose is ’n realiteit; daarom smeek ons God om ons teen sy versoekings te beskerm. Ons vra God om ons met sy Gees se teenwoordigheid te vul en tot sy eer te laat leef.