top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gebed gaan nie oor lengte nie

deur Stephan Joubert Die groot prediker George Whitefield het een keer die volgende oor ’n ander prediker se gebed te sê gehad: “He prayed me into a good frame of mind, and if he had stopped there, it would have been very well; but he prayed me out of it again by keeping on!” Geen wonder nie dat Jesus se dissipels in Lukas 11 vir Hom vra: “Here, leer ons bid.” Om te lank te bid, mag dalk die indruk van vroomheid skep by sommiges, maar dit beïndruk nie vir God nie. Trouens, ek weet in sekere Oosterse lande is dit selfs ’n merkteken van ware geestelikheid. Hoe langer jy bid, hoe vromer is jy blykbaar. Maar lang gebede is nie ’n Bybelse opdrag of vereiste nie. In Matteus 6 sê Jesus dat God nie deur ’n stortvloed van woorde beïndruk word nie. Hy weet in elk geval wat ons nodig het. Hy is immers ons Hemelse Vader. Ons kan ons diepste nood en ons daaglikse behoeftes voor Hom bring, soos wat Hy ons ook uitnooi om te doen. Maar dit moet opreg, kort en kragtig wees. Anders bid ons onsself en ander rondom ons flou. Nog meer, dan mis ons die eintlike punt van gebed.

bottom of page