Met my een en enigste lewe wil ek...
deur Stephan Joubert Wanneer jy vir jongmense vra wat wil hulle met hul lewe doen voordat hulle 30 jaar oud is, sê 59% hulle wil finansieel afhanklik wees, 52% wil hul studies voltooi hê, en 40% wil uitvind wie hulle is. So wys nuwe navorsing van die Barna groep uit. Wel, wat wil jy met jou eie lewe voordat die res van die jaar verby is? Dalk net oorleef? Of aangaan soos wat jy aangaan? Hoor hier, sonder ’n duidelike visie en plan kwyn jou siel. Daarom gryp Paulus se lewe my so aan. As die enigste Christen in elke stad waar hy aangekom het, het hy stroomop en teen alle teenstand in die lig van die evangelie laat skyn. Die uiteinde — wanneer Paulus daardie stede verlaat het, het bloeiende, groeiende kerke agtergebly. Dan het mense skielik geweet van Jesus se kruis. Dan was daar dinamiese geloofsbewegings in plek. Dan is die lewende God verheerlik op plekke waar dooie afgode vroeër die toneel oorheers het. Nou ja, jy en ek kan nie Paulus wees nie. Maar ons kan by hom leer om ’n lewende verskil te wees en om dit vanjaar nog te doen. Wat myself betref — ek het besef ek kan nie ander mense se lewensbekers volmaak nie. Vir lank in my lewe het ek geglo dis wat ek moet doen. Toe besef ek dis my roeping om maar net my eie lewensbeker aanhoudend leeg te maak in God se diens. Ek is geroep om myself te gee, afgesien van die resultate. In Jesus se woorde in Johannes 7:38–39 is ek geroep om die Gees se lewende water vanuit my binneste laat vloei, nie om resultate na te jaag nie. As sulke leegmaak–aksies ander mense tot voordeel strek, is dit suiwer genade. Resultate is egter nie my afdeling of opdrag nie. God vra slegs dat ek myself gee met daardie paar talente wat Hy aan my toevertrou het. My roeping en plan die volgende jaar is om leeg te wees sodat Hy my gedurig kan volmaak om myself nogmaals leeg te gee. Dan vloei daardie strome van seën van Bo.