Luister! God fluister
- ekerkweb
- Jul 14, 2015
- 2 min read
deur Milanie Vosloo “Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die ...” — 1 Konings 19:11(b) Sukkel jy soms om God se stem te hoor? Beleef jy met tye dat Hy ’n veraf-God is en wonder jy dan of Hy régtig vir jou lief is? Menige geloofskind en selfs Bybelse geloofshelde het al sulke verlate-voel-tye beleef. Dink maar hoe het Job op ’n tyd gesukkel om God te hoor en te verstaan en hoe selfs Dawid met tye gevoel het. Die goeie nuus is dat dit nie God is wat sy rug op jou gedraai het nie. Hy is hopeloos te lief vir jou om dit ooit te doen! Dit is gewoonlik net buite-omstandighede of dalk jou eie binne-wêreld wat jou van Hom vervreem het. Vra jouself in sulke tye:
Was ek die afgelope tyd te besig om met Hom te gesels?
Het ek toegelaat dat sonde- en skuldgevoelens ’n muur tussen ons bou?
Het die wêreldse lawaai my doof vir sy stem gemaak?
Elia, een van die groot profete, het op ’n stadium ook so ’n woestyntyd in sy lewe beleef toe hy moeg en verlate van God en mens gewens het dat hy kon sterf. En wanneer God dan weer aan hom verskyn, is dit nie op ’n dramatiese wyse nie: Ons lees in 1 Konings 19 dat God nie aan hom deur ’n wind, ’n aardbewing of in ’n vuur verskyn het nie, maar ...”Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister.” ... Elia het God se fluistering in stilte gehoor. Weet vandag:
God is nooit te besig om na jou te luister en met jou te praat nie. Hy wag op jou met ’n geduldige en begripvolle oor. Hy is elke oomblik – ook nóú – net ’n gedagte van jou af. Wanneer jy op Hom fokus, sál jy sy teenwoordigheid voel.
Niks kan jou van sy liefde skei nie. Jou vergewensgesinde Vader hoor die berouvolle hart van sy kinders hard en duidelik. As jy voel om, vanweë jou sonde, vir God weg te kruip, vra Hy net dat jy sal erken dat jy verkeerd was en weer na Hom sal terugkeer. Hy vergewe berouvolle kinders en aanvaar hulle met groot liefde.
God kompeteer nie met die wêreldse lawaai nie. Hy is nie saans op TV nie, Hy haal nie die nuusberigte op die radio nie, Hy is nie te sien in winkelsentrums nie en Hy maak nie sy stem dik in lawaaierige kuierplekke nie. God skree nie om jou aandag nie. Hy fluister wanneer jou siel ... stil is.
Maak jy genoeg tyd om God in stilte te ontmoet? Wanneer ek by U stil word, Here, vou u heerlike teenwoordigheid my siel met sagte vrede toe. Wanneer ek by U is, vul u tere liefde my hele wese. Wanneer ek by U skuil, fluister U in my hart nuwe lewe. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM
Recent Posts
See AllBrad Huddleston DIGITAL COCAINE A journey toward iBalance Christian Art 2016 Sosiale media het soos ‘n reuse bom ontplof en die hele...
Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek...
Inkleurboek KLEURVOLLE INSPIRASIE VIR GROOTMENSE Kikker jou lewensreis op met kleur en Bybelse inspirasie Illustrasies deur Amylee Weeks...