top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die diagnose, die antwoord

deur Stephan Joubert Een van die duidelikste diagnoses in die Bybel oor hoekom baie gebede geen krag of effek het nie, kom in Jakobus 4:1-3 voor. Jakobus skryf naamlik hier dat mense nie ontvang nie, want hulle bid nie. So eenvoudig soos dit. Biddelloosheid is dodelik. Daar’s ’n tweede rede: vele wat wel bid, bid verkeerd. Hulle wil heeltyd net nog dinge van die Here hê om hulle eie selfsugtige behoeftes te bevredig. Biddeloosheid en selfsug — hierdie dinge is volgens Jakobus die twee groot hindernisse op die pad van lewenskragtige gebed. Dit versper die pad hemelwaarts. Om nie te bid nie, is om God se oop hand mis te loop. Maar om verkeerd te bid, is om op presies dieselfde roete te wees. Selfgesentreerde gesprekke wat jy met die Here aanknoop wanneer dit jou pas en wat net op jou eie behoeftes afgestem is, staan God nie aan nie. Egte gebed is die brug hemelwaarts en terug. Dit verbind jou direk met die troonsaal van die Allerhoogste in Jesus se Naam. Gebed is om laag voor die Koning van die heelal te buig omdat jy weet jy is maar soos ’n bietjie stof op die hemelse weegskaal. Daarom dat jou gunsteling plek altyd laag aan God se voete is, soos wat Jakobus 4 ook leer. Gebed is om diep ontsag vir die lewende God te hê. Dit laat jou opkyk om die heiligheid van God te ontdek. Gebed laat jou al hoe meer wegkyk van jouself en van jou eindelose behoeftes en begeertes. Gebed laat jou loof. Dit laat jou aanbid. Dit laat nuwe lofredes oor jou lippe spoel om die Here se Naam te besing. Dan eers waag jy dit om vir vandag se brood te vra. En om dit gelowig te ontvang. Dan vra jy in dieselfde asem ook vir God om jou en jou geliefdes te bewaar van die Bose. En om jou te help om ander te vergeef soos wat Hy jou vergeef.

bottom of page