top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Wat wil God die graagste van my hê?

deur Elmarie van der Westhuizen Toe ek en Dana op mekaar verlief raak het ons net oë vir mekaar gehad en kon nie wag om in mekaar se geselskap te wees nie. Die tye weg van mekaar het ons heeltyd aan mekaar gedink. Nog meer so kon ons nie wag om mekaar op ons troudag te sien nie. Daar was ’n tasbare opgewondenheid en afwagting in die lug. Ons opregte en ware liefde het ons gedryf en dit was eintlik ondenkbaar dat ons uit pligsbesef sou wou trou. Die Bybel gebruik ook die voorbeeld van ’n bruidspaar om God se liefde en verhouding met ons, Sy kinders, te beskryf. Dieselfde passie, deernisvolle liefde en opgewondenheid wil God ook as ’n kenmerk van ons liefde vir en verhouding met Hom hê, eerder as dat ons om Hom uit pligsbesef probeer tevrede stel. Die Nuwe Testamentiese gemeente in Efese is deur God veroordeel omdat dit nie hul liefde vir Jesus was wat hul harde werk gemotiveer het nie — dit was plig. Lojaliteit sonder passie vir die persoon van Christus. Plig sonder toewyding. Openbaring 2:2–5: “Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.” Wanneer ek tyd by Jesus spandeer, stiltetyd waar ek sommer net Sy teenwoordigheid geniet, wanneer ek met Hom gesels gedurende my oggend stappie en in die verkeer oppad werk toe, word Hy deel van my lewe. En dis wat Hy die graagste wil hê — om deel van my lewe te wees, my eerste liefde. Eers wanneer hierdie liefdevolle verhouding in plek en sterk is, is ek regtig toegerus om na die volgende stap toe oor te gaan en namens Hom liefde aan ander te betoon, te werk in Sy koninkryk. Eers nadat ek soos Maria by Jesus se voete gesit het, kan ek soos Martha gaan dien. As dit vir die Seun van God met sy besige aardse bediening nodig was om ALTYD eers tyd met Sy Vader te spandeer, hoeveel te meer sal my verhouding met God nie skeef trek wanneer ek toelaat dat die dringende sake die plek inneem van die belangrikste nie, wanneer ek tyd saam met Hom verruil vir besig wees, al is dit om te werk in die Koninkryk. Wyle Louis Malherbe het dit raak opgesom: “Ons raak so besig met die dinge van die Here, dat ons die Here van die dinge vergeet.” Kom ons maak Jesus ons eerste liefde — bid en vra dat Hy weer vir ons die passie sal gee en ons hart brandend vir Hom sal maak. “Only when you make Jesus Christ your first love, will you be ready for a love story that reflects His glory.” — Leslie Ludy

 

KONTAK ONS

Kontak ons gerus met enige vrae of voorstelle. Gebruik die besonderhede hiernaas of skryf sommer jou boodskap in die vorm hieronder.

Jou boodskap is gestuur!

e | info@ekerk.org

c | 083.670.9974

f  | 087.123.4567

Posbus 11315, Aston Manor 1630

52 Weltevreden Crescent, Kempton Park

Regnr:  2004/011580/08

  • w-facebook
  • Google Clean
  • w-twitter
  • w-vimeo
  • YouTube - White Circle

​© Kopiereg 2012 Ekerk Vereniging

bottom of page