Wie en wat glo mens deesdae?
- ekerkweb
- Jul 6, 2015
- 2 min read
deur Stephan Joubert “Wat moet mens deesdae glo? Daar’s soveel verwarrende stemme in en om die kerk,” sê–vra iemand. Inderdaad! Daarom dat ek geleer het om nie my hart en ore aan elke stem op die horison uit te leen nie. Dit beteken nie ek ignoreer andersdenkendes of leef met oorpluisies in my ore nie. Inteendeel, omdat ek die evangelie van Christus van harte glo, blok ek nie krities– of andersdenkende stemme uit, soos wat party godsdienstiges wel doen nie. Ek weet die evangelie van Christus kan enige donkerte verlig. Ek weet dit het die toets van die waarheid en die tyd deurstaan. Daarom gaan staan my hart nie elke keer as openbare figure die evangelie probeer aftrek nie. Of as mense deur allerlei nuwe stemme soos golwe heen en weer geslinger word nie. My identiteit is gesetel in Christus. Saam met Hom is ek gekruisig, soos wat Romeine 6 my leer. In Christus is ek ’n nuwe mens, soos wat ek lees in 2 Korintiërs 5 en Galasiërs 6. En ek glo dit van harte! Daarom kan die winde maar waai en die berge maar val — Christus is my Rots. Hy is my troos, my enigste! Hy is die Pad. Die Boodskap (Johannes 14:6) stel dit so: “Ek is die pad en my Vader is die Adres. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.” Al is ek die enigste persoon in my straat of in my kantoor wat op die roete Godwaarts leef, dan wyk ek steeds nie af van die regte roete nie. Al is ek die enigste stem in my dorp of stad of land wat koersvas Christuswaarts leef, dan doen ek dit met liefde en oortuiging. Josef kon dit immers regkry as die enigste Godvresende persoon in Egipte. Paulus kon dit regkry as die enigste Christen in elke nuwe stad waar hy aangekom het. Daarom dat ’n klomp verwarrende stemme my regtig nie van koers af gaan waai nie.
Recent Posts
See AllBrad Huddleston DIGITAL COCAINE A journey toward iBalance Christian Art 2016 Sosiale media het soos ‘n reuse bom ontplof en die hele...
Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek...
Inkleurboek KLEURVOLLE INSPIRASIE VIR GROOTMENSE Kikker jou lewensreis op met kleur en Bybelse inspirasie Illustrasies deur Amylee Weeks...