Gasvryheid
deur Alet Gardner Soos my dogter wat kan toor met kos, glo ek dat daar niks is wat by ’n varsgebakte broodjie kom nie — saam met ’n fênsie ete, saam met lekker braaivleis, saam met ’n pot wonderlike botterskorsiesop, of sommer net as ’n geskenk aan die raam–man wat op kort kennisgewing vir my ’n paar skilderye vir die volgende uitstalling geraam het. Jare gelede, toe ek en Brink ’n nuwe pad van toewyding aan die Here begin stap het, was ons so beïndruk deur Neels en Marietjie Claassen se gasvryheidsbediening, dat ons begin het met “evangeliese tuisonthale”. Met die eerste geleentheid waarnatoe ons drie pare genooi het om so tussen die ete deur oor ’n verhouding met Jesus te gesels, het ek so hard gewerk aan die voorbereiding van ’n spogete dat ek nie gebid het vir die gaste nie. Gevolglik het een gas heeltyd die gesprek in ’n baie negatiewe rigting gestuur en was die aand nie baie geseënd nie. Intussen het ons geleer wat die waarde daarvan is om ’n paartjie of twee te nooi, en met liefdevolle voorbidding én voorbereiding vir iemand te bederf wat behoefte het aan ’n veilige plek/bemoediging/rigtinggewing. Ek dink steeds met verwondering aan die paartjie wat saam met ons en nog ’n vriendepaar oor ’n heerlike maaltyd gekuier het. Teen die einde van die aand was haar kommentaar: “Ek het nie besef ’n mens kan so lekker kuier deur die hele aand oor die wonder van ’n verhouding met Jesus te gesels nie!” Hy weer, het teen die einde van die aand uit die gastetoilet gestap gekom met ’n klein traktaatjie oor ’n persoonlike verhouding met Jesus en gevra of hy dit huis toe mag neem — om die volgende dag met sy ouers en gesin deur te lees! Binne die volgende paar jaar het hulle betrokke geraak by Bybelstudies en seminare en met entoesiasme hulle eie huis tot beskikking van soortgelyke onthale gestel. Ons het selfs die voorreg om ons wit gastekamer (wat ons kleindogter die prinseskamer gedoop het) tot die beskikking te stel van reisende evangeliste, gassprekers by ons gemeente, en vriende en familie wat ’n afpakplekkie nodig het. In die proses kon ons ’n rusplek en toevlug vir menige reisigers bied én in die proses die seën ervaar van Hebreërs 13:2 “engele” te kon huisves — “engele” wat weer ons geloof kom versterk het. Om hierdie gasvryheid te betoon, is natuurlik nie altyd maklik nie. Dit impliseer werk en uitgawes en kan ook emosioneel dreinerend wees. Maar daar is min dinge wat ek kan doen wat vir ander én vir myself tot soveel seën kan wees. “Aloneness can lead to loneliness. God’s preventative for loneliness is intimacy — meaningful, open, sharing relationships with one another.” — Neil T Anderson