Elke dag is ’n altaar
deur Tom Smith In die Ou Testament lees ons gereeld hoe mense wat ervarings met God gehad het ’n altaar gebou het om die gebeurtenis te herdenk. So lees ons in Genesis 28 van Jakob wat ’n besondere ervaring met God gehad het. Hoor net hoe beskryf Genesis dit, Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.” Die volgende môre het Jakob opgestaan en hy het die klip wat sy kopkussing was, gevat en dit regop gesit. Toe giet hy olie op die bopunt daarvan uit. Hierdie teks beskryf my lewe. Soms is ek nie so lekker wakker in my daaglikse lewe nie. Ek leef verby die wonderlike geskenke en werklikhede in ’n tipe slaap toestand. Waarlik die Here is in my lewe besig en ek is nie bewus daarvan nie! In die kerkjaar is ons nou verby die opwindende feeste van Pase en Pinkster en nou is ons in die seisoen wat bekend staan as “Gewone Tyd”. Dit is nou die “grind” deur die winter. Dit is binne hierdie gewone tyd wat ons uitgenooi word om wakker te word. Dit is juis hierdie beeld wat Paulus in Efesiërs 5 gebruik wanneer hy ’n lied aanhaal wat ons uitnooi, “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” In Barbara Brown Taylor se pragtige boek “An Altar in the World” skryf sy, “Earth is so thick with divine possibility that it is a wonder we can walk anywhere without cracking our shins on altars.” Dalk kan jy in hierdie volgende week ’n gebed doen waarin jy die Here vra om jou wakker te maak. Miskien kan jy ’n gewoonte aankweek om te stop en te dink oor die altare in jou lewe. Hierdie kan ’n lekker gesprek wees vir families of vriende. Vra mekaar — op watter plek in jou lewe het jy onlangs wakker geword en ook gesê, “Waarlik die Here is op hierdie plek en ek het dit nie besef nie.”