God vat jou soos jy is, maar Hy los jou nooit net daar nie
deur Stephan Joubert “Julle sal my moet vat soos ek is,” het ’n omgesukkelde ou een keer vir my gesê toe ek ’n jong leraar was. “Al die dominees voor jou hier in die gemeente het dit geweet en my uitgelos. Jy moet dit ook weet, anders gaan ons nie oor die weg kom nie.” In my voortvarendheid het ek dadelik geantwoord ek sal dit seker maar moet doen, maar ek kan nie waarborg die Here gaan dieselfde doen nie. Ek verduidelik toe vir hom dat God ons graag vat soos wat ons is, maar Hy los ons nooit daar waar Hy ons gekry het nie. Deur sy Gees verander Hy ons aanhoudend, soos wat Paulus in 2 Korintiërs 3 skryf. Toe sê ek ook vir die moeilike ou dat as hy oor ’n jaar steeds nog is wie hy is, dan het die Here dalk opgegee op hom. “Wil jy so iets hê?” vra ek hom toe. “Wil jy regtig oor ’n jaar van nou af steeds bekendstaan as die moeilike ou in die kerk wat die risiko loop om buite God se genade te leef en sterf? Wil jy regtig weier dat God se Gees jou nuutmaak en dat Hy jou verander in ’n lewende tempel van God?” Toe gebeur daar uit die bloute ’n mooi bekering, want God is genadig! Die drie–enige God is in die verandering–bedryf. Jesus koop graag bankrotmense vir Homself op. Hy red verlore mense. Sondaars is altyd op sy radarskerm. Dan oorhandig Hy diegene wat Hy vrygekoop het aan die Heilige Gees. En, soos wat Paulus in 1 Korintiërs 6:19–20 skryf, die Gees spesialiseer in tempelbou! Hy omvorm ons lewens tot lewende tempels waarin die Allerhoogste met groot vrymoedigheid kan woon. Ek wil graag in die hande van hierdie God leef en groei. Ek wil graag toelaat dat Sy Gees my aanhoudend verander en nuutmaak tot Sy eer. Wat van jou?