top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die skadelikste woord op aarde

deur Stephan Joubert Die mees skadelike woord in die Engelse taal? NO! In Afrikaans: NEE. ’n Paar neurowetenskaplikes het gaan kyk na die effek van woorde op ons brein by wyse van fMRI skanderings. Hulle het agtergekom dat stres–veroorsakende hormone en neurotransmitters dadelik in jou kop losgelaat word by die blote aanhoor van hierdie einste woord. Hoe meer dit oor jou tong vloei, hoe groter raak die skadelike impak hiervan op jou brein. Hierdie navorsers toon ook aan dat om net ’n klompie negatiewe terme voor depressiewe persone se oë te flits, hulle toestand daar en dan vererger. In kort: negatiewe taal verrinneweer jou brein. Hartseer genoeg is party godsdienstiges lief vir negatiewe terme en afdreigtaal. Hoe anders het Jesus nie gepraat nie. Nooit het Hy sondaars afgeskryf met vuur–en–swael taal nie. Daar was altyd sagte salf vir hulle wonde en genadewoorde vir hulle geestelike kondisie. Hy het graag vir hulle vertel Hy is lewende water en ewige brood. Hy is die ware wynstok, die goeie Herder, die opstanding en die lewe. Jesus se woorde was uitnodigend en genesend. In sy woorde en dade was daar oorvloedige lewe te vind. By Jesus moet ons dringend die regte woordeskat kom aanleer.

bottom of page