Van mandjie–kind tot mens
deur Milanie Vosloo Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water gehaal.” — Eksodus 2:10 Ma–wees is nie altyd maklik nie. Om (onskuldige!) bondeltjies mense groot te kry, vereis ’n groot klomp energie, wysheid en geduld. En hoe ouer hulle raak, hoe meer het ons hiervan nodig. Enige ouer sal daarvan getuig dat kind grootmaak boonop nogal ’n toets vir ’n mens se geloof ook is. Daar’s immers vele kere wat jy maar moet hoop en glo dat jou opvoeding tóg vrugte sal afwerp. En dan, net sodra ons dink dat die moeilike deel van ma–wees afgehandel is, moet ons ons nessie–kuikens, wat ons met soveel liefde en sorg grootgemaak het, loslaat om die wêreld in te vlieg. Dis dan wanneer ons besef: ons bondeltjie–mens word maar vir ’n kort tydjie vir ons geleen. Moses se ma was een van daardie vroue in die Bybel wat besondere moed gehad het. In haar poging om haar babaseun teen die moordveldtog van die Egiptenare te beskerm, vleg sy ’n mandjie, smeer hom met waterdigte pik en gaan steek hom tussen die riete weg. Ons onthou dat dit hier was waar die farao se dogter hom gekry het en met Moses se ma ooreengekom het dat sy die kind vir haar moet grootmaak en dan vir haar paleis toe moet bring. In Eksodus 2 lees ons hoe Moses se ma, toe haar seun groot genoeg was, hom wél aan die prinses gaan “skenk” het. Hoeveel moed moes sy nie vir hiérdie deel van die ooreenkoms hê nie! Drie dinge is nodig vir suksesvolle ma–wees:
Die onbreekbare mandjie van ons spesiaal–gevlegde liefde. Wie kan liewer hê as ’n ma?
Ons waterdigte voorbeeld. Kinders hoor nie wat ons hulle leer nie, hulle sien wat ons doen en volg dit.
Die grootsheid om ons kinders — wanneer die tyd reg is — tussen die riete van die lewe los te laat ... sodat hulle hul eie ménswees kan gaan leef. Dis heel dikwels makliker gevra as gedoen!
Mag jy — as jy self ma is — die moed hê om al drie te doen. Bid onverpoos vir jou kinders en weet: God sorg vir elke mandjiekind as ons hulle aan Hom opdra. En Hy — die grootste opvoeder van alle tye — sal ook in jou afhanklikheid vir jou die krag en moed gee om ma te wees ... soos Hy. Mag jy ook jou eie ma of die herinneringe aan haar, altyd met deernis koester. Dankie Vader–God, vir die wonderwesens wat ma’s genoem word! Gee aan ons die wysheid om ma’s te wees soos U sou wou hê ons moet wees. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM