top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die gemene deler tussen ons almal is…

‘n Paar jaar gelede het Bill George van die Harvard Business School ‘n ambisieuse studie onderneem. Hy wou vasstel wat die karaktereienskappe van suksesvolle leiers is. Na onderhoude met 125 top leiers was hy moedeloos. Geen ooglopende kenmerke het uitgestaan nie. Toe gaan lees George nogmaals deur al sy notas. Skielik het ‘n lig aangegaan toe hy raaksien dat hierdie leiers een gemeenskaplike deler het- hulle eie tekorte! Almal het erken dat hulle iewers misluk het as gevolg van hulle groot ego’s, foute, of hulle dwaasheid om na raad te luister. Hulle moes leer om hul trots in hulle sakke te steek en eerlik te raak oor hulle swakhede. En om uit hulle terugslae te leer.

Eerlikheid oor jou onvermoëns en swakhede is nie net ‘n moderne uitdaging nie. Selfs Paulus moes op ‘n dag eerlik raak hieroor. In 2 Korintiërs vertel hy ‘n paar keer van sy eie swakhede. Dit doen hy terwyl besoekende predikers in Korinte spog oor hulle nuutste openbarings, geestelike deubrake en suksesse. Paulus vertel hy is soms oor raad verleë. Dikwels word hy op die grond neergegooi en vertrap. Vervolging, spot, misverstande en swaarkry is sy voorland. Drie maal het Paulus gebid dat die Here hierdie doring van swakheid uit sy vlees verwyder. Toe moes hy hoor God se genade is vir hom genoeg.

God se krag werk deur swak menslike houers. Paulus moes op die harde manier leer hy’s nie ‘n eindverbruiker of vertoonvenster van die Here se krag nie. Hy is slegs ‘n geleier hiervan. Ook moes hy ontdek hyself kort nie nog krag nie, maar genade. Menslike swakhede is Goddelike geleenthede!

Effektiewe mense gelowiges nie hulle swakhede weg nie. Nee, hulle weerloosheid is nie skielik ‘n Christelike deug nie. Nog minder is dit ‘n skuiwergat vir moedswillige sondes. Of ‘n verskoning vir middelmatigheid. Eerlikheid soos dié van ‘n Paulus, is ‘n diep besef by navolgers van Christus dat hulle toe nie die “groot” antwoord is nie. Of dat hulle elke slag “weet” nie. Hulle is breekbare houers wat gedurig hemelse genade benodig. Sonder ‘n bewussyn van eie swakhede en onvermoëns raak ons verstrik in ons eie ego’s. Dan poets ons graag ons eie beeld soos wafferse Christelike “celebrities.” Dit mag nooit gebeur nie!

bottom of page