Gebruik die bietjie wat jy in jou hand het!
deur Stephan Joubert Toe die bekende Dr Seuss sy kinderboek The Cat in the Hat geskryf het, het sy uitgewer slegs 223 woorde (party beweer dis 225 woorde!) aan hom gegee wat hy deur die loop van die boek kon gebruik. Met die skryf van Dr Seuss se volgende boek het sy uitgewer, Bennet Cerf, hom $50 gewed dat hy nie ’n boek kon skryf waarin hy slegs 50 woorde gebruik nie. Toe doen hy dit. Green Eggs and Ham het 200 miljoen kopieë verkoop! Ons dink gewoonlik dat ’n stortvloed van woorde die ding vir ons moet doen. Dis egter nie nodig nie. Jesus het ons geleer dat verbale stortvloede definitief nie werk met God nie. In Matteus 6 hoor ons by Hom dat God nie deur massas woorde beïndruk word wanneer ons bid nie. Hy weet wat ons nodig het. Daarom hoef ons Hom nie met indrukwekkende woorde te oorstroom nie. Hou dit kort, met ander woorde. Dieselfde beginsel leer ons in Prediker 4:17–5:2. God word nie deur baie woorde geroer nie, maar deur opregte harte. Ek leer nog ’n les vandag, en dit is naamlik dat ek altyd moet werk met dit wat ek in my hand het. As ek 223 of selfs 50 woorde op my palet of op my leeftafel het, dan is dit so. Dan maak ek die beste daarmee wat ek kan. Dink net hoeveel beter sal die wêreld (en Suid Afrika!) wees as Christene dit regtig begin glo. Dink net wat sal gebeur as hulle dit wat hulle in hulle hand het gebruik en nie heeltyd net kla en gedurig vertel hoe anders dinge kon gewees het nie. Feit is, ons sit met Eskom, snaakse politici, geldelike uitdagings, en wat nog alles, maar om dit as ons plafon te sien, of as die beperkers van ons geluk voor God, is om geestelik verlam te wees. Die meeste mense se omstandighede is die grootste bepalers van hulle geluk of ongeluk. (Gaan kyk gerus na die meeste studies oor geluk in die wêreld, dan sal jy sien gunstige uiterlike omstandighede bepaal meeste mense se geluk!) Wanneer jy egter saam met Jesus loop, is Hy jou vreugde. Dan kan jy op enige palet vir Hom meesterwerke skilder. Dan kan jy, soos Dr Seuss, selfs met 50 woorde toor.