Om te kan sien!
Om te kan sien! deur Milanie Vosloo Hy sê toe vir Tomas: Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op my wond en my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!“ Oorweldig sê Tomas vir hom: “My Here en my God!” — Johannes 20:27–28 Jesus se vriende en dissipels was goed bekend met die verlossingsboodskap en het presies geweet waarom Hy aarde toe gekom het. Tóg is dit opvallend dat hulle eers drie dae ná sy kruisdood die ware betekenis van die gebeure werklik gesien, beleef en hul eie gemaak het. Hulle sien die weggerolde klip, die doeke in die leë graf, engele ... hulle sien hul opgestane Meester, Jesus, in lewende lywe en glo met oortuiging dat die Verlosser lééf! Net Tomas sien nie. Hy luister na die getuienis van sy vriende, maar weier om die wonderwerk te glo voordat hy nie Jesus se wonde met sy eie hande gevóél het nie. Hy kies om blind te bly vir die waarheid totdat Jesus ook aan hom verskyn en hom uitdaag om sy hand op die wond in sy sy te sit. Eers dán hoor ons sy oorstelpte vreugde wanneer hy sê: “My Here en my God!” Hoeveel van ons is soos Tomas? Mense wat die Woord en die evangelie al ’n honderd maal gelees en gehoor het, maar dit steeds nie ons eie gemaak het nie? Is baie van ons nie ook maar geestelike blindes wat al die kennis besit, maar geen ware gelóóf het nie. Het jy Christus al werklik met jou síél gesien en met jou hart aan sy spykerwonde geraak? Glo jy met jou hele hart dat Hy vir jóú gesterf het en vir jóú lééf? Het jy al vir Hom gesê: “Mý Here en mý God!“? As jy Jesus al met jou hart en siel gesien het, onwrikbaar in Hom glo en Hom blindelings vertrou, is jy een van God se salig–gelukkige kinders! Hy sê self vir Tomas verder in die verhaal: “Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My met oorgawe aanvaar, gaan van geluk oorloop.“ Johannes 20:29 God beloon altyd dié mense wat Hom onvoorwaardelik vertrou. Daarom kan jy — wat God in jou lewe het — wéét:
Jy kan jou lewe rustig in die hande toevertrou wat die wêreld deur al die eeue vasgehou het.
Jy kan elke dag met moed en oortuiging leef in dié wete dat Hy in beheer van die heelal — van jóú lewe — is.
Jy kan leef met die vaste vertroue en hoop dat Hy — op sy tyd en wyse — sal terugkeer na hierdie aarde om sy geloofskinders te kom haal.
As jy jou Here gesien het, kan jy met kinderlike vertroue die lewe aandurf met dié oortuiging dat jy God ken ... en dat Hy jóú méér as ken: dat Hy jou ewig liefhet!
Twyfel veroorsaak ontsteltenis en angs; vertroue beteken om jou vreugde terug te vind, is die wyse woorde van Charles H Spurgeon. Here, dankie dat U mý Here en mý God is!
Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM