Die gevaarlikste woord in jou woordeskat
deur Stephan Joubert Ek wil graag aansluit by ’n stukkie wat ek die afgelope week in my kort daaglikse kolom in Beeld geskryf het wat ook getiteld is “Goeie Nuus.” Dit het nogal heelwat gesprek op Media24 se netwerke gemaak. Met name het ek vertel van navorsing wat bevind het die skadelikste woord in die Engelse taal is die woord “NO!” (“Nee” in Afrikaans.) ’n Span neuro-wetenskaplikes het navorsing gedoen oor die effek van taal op ons brein. Hulle het toe agtergekom dat stres-veroorsakende hormone en neurotransmitters dadelik losgelaat word by die aanhoor van hierdie einste woord. Maar dit beskadig nie net jou eie kop nie; hierdie navorsers het ook bevind dat wanneer jy die woord “NO” (“NEE”) gebruik saam met negatiewe gesigsuitdrukkings, dan aktiveer jy boonop stres chemikalieë in die brein van jou hoorders. Hoe meer negatiewe taal jy gebruik, hoe meer veroorsaak jy angs en geïrriteerdheid by laasgenoemdes. Feit is egter, negatief-gelaaide woorde rig in jou eie binnekant die eerste sarsie skade aan voordat dit ander benadeel. Jy is die eerste slagoffer van jou skerp taal, nie ander mense nie. Jy drink elke keer die eerste slukkie taal-gif wanneer jou taal-konkoksies negatief, afbrekend of vrees-aangedrewe is. In my kinderjare het my ma altyd gedreig sy gaan my mond met seep uitwas as ek lelike taal gebruik. Maar sy het my nie gekeer om hooplose terme en vreesbelaaide uitdrukkings op my lippe te laai nie. Of my geleer om alle negatiewe taal te vermy nie. Kerkmense in my omgewing het juis uitgeblink in die gebruik van foutvinderige kommunikasie. Party godsdienstiges is steeds lief vir bangmaak-taal en negatiewe woorde. Feit is, sulke taal verrinneweer jou brein. Jesus het nooit negatief gepraat met diegene vir wie Hy aarde toe gekom het nie. Nooit het Hy sondaars met skerp woorde afgeskryf of hulle met vuur en swael gedreig nie. Genadewoorde vir soekers, armes en hulpeloses het altyd in sy omgewing gewen. Jesus het nuwe vensters op God se ruim genade met sy woorde oopgemaak. Hy het graag vertel Hy is lewende water en brood. Hy het verduidelik Hy is die ware wynstok en die goeie Herder. Binne hoorafstand van sy woorde is daar vandag steeds oorvloedige lewe te vind. Sy taal is water vir enige vuur. Binne hoorafstand aan Sy woorde is daar altyd genesing en nuwe lewe te vind. Is dit nie hoogtyd dat jy inskryf vir taalklasse by die Here nie? Hy het jou tong nie ontwerp vir negatief praat, of ooit aan jou toestemming gegee om afbrekende woorde op jou tong te laai nie. Jou woorde is nie bedoel om wapens van massa vernietiging te wees nie; jou taal is boumateriaal. Gebruik dit so en leef!