Salf met hart en siel
deur Milanie Vosloo “As julle My liefhet, wys dit deur te doen wat Ek vra.” — Johannes 14:15 Ses dae voor Paasfees sit Jesus saam met sy vriende en kuier toe ’n vrou die vertrek binnestap met ’n fles peperduur nardusolie. Verstom is die gaste toe hulle sien hoe sy die fles breek, die kosbare inhoud op Jesus se kop en voete uitgooi en die oortollige olie saggies met haar hare afvee. Knielend salf sy haar Koning met haar opregte liefde ... met die kosbaarste van haar hart en siel ... sodat die hele huis na die geurige olie ruik. So asof haar liefde na almal rondom haar versprei. Toe Judas, ewe vroom, kapsie maak oor die geld wat sogenaamd gemors is en liewer aan die armes gegee kon word, antwoord Jesus beslis: “Los haar ... Ek sal nie altyd by julle wees nie. As julle dan iets moois vir my kan doen, doen dit dan.” Johannes 12:7 Hiermee sê Hy eintlik hoe waardevol Hy spesiale liefdesdade teenoor Hom ag. Vandag, meer as 2000 jaar later, glimlag God steeds wanneer ons Hom met die kosbaarste van ons lewens bederf. Ja, God wil hê dat ons Hom uit die diepte van ons harte sal liefhê en dit sal wys. Ons kan dit doen deur:
Hom elke dag te loof en te prys. Sê vir God hoe groot, heilig en soewerein Hy is. Hy wil dit hoor.
Dié talente en gawes wat Hy ons gegee het, tot eer van sy Naam te gebruik: hetsy met die uitbreiding van sy koninkryk of om ander daardeur te verryk.
Die beste van ons lewens: ons tyd, ons inkomste en ons menswees, vir Hom te gee. God maak aanspraak op dit wat Hy vir sy kinders gee.
Só te leef dat ons die heerlike geur van sy liefde sigbaar, hoorbaar en tasbaar na ander se lewens versprei. Jesus sê self dat wanneer ons iets vir ander doen, ons dit as’t ware vir Hóm doen.
Sy wil te doen. Ons Vader seën gehoorsame kinders.
Hoe nader ons aan God kom omdat ons Hom liefhet, hoe meer word ons verenig deur ons liefde vir ons naaste; en hoe groter ons eenheid met ons naaste, hoe groter is ons eenheid met God, het Dorotheus van Gaza gesê. Vra elke dag vir God hoe jy Hom kan dien en wat jy kan doen om Hom te bederf. Wees gehoorsaam, doen en gee soos Hy jou lei. Só word jy ’n vrou wat Hom en ander met jou liefde salf. Here, wys my hoe om die jasmyn van ware liefde vir U in my hart te kweek sodat die heerlike geur daarvan U sal laat glimlag en ek daardeur ook ander se lewens sal seën. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM