Uniek verby, dis jy!
deur Stephan Joubert In sy boek, The arithmetic of life and death, bereken George Shaffner dat die wiskundige moontlikheid vir jou om jou spesifieke 23 chromosome van jou ma te kon geërf het een in tien miljoen is. Dieselfde geld vir die 23 chromosome wat jy van jou pa gekry het. As jy hierdie twee vermenigvuldig, dan sien jy dat vir jou om jyself te kon wees gelyk is aan ’n wiskundige moontlikheid van 1 in 100 triljoen. Boonop kan jou 23 paar chromosome weer op 8,388,608 maniere (oftewel 2 tot die mag 23) verbind. Jy is uniek verby! God bevestig dit in die Bybel. Dawid roep jubelend uit in Psalm 139:14 dat God ons wonderbaarlik aanmekaar gesit het. Ons is loshande die hoogtepunt, die magnum opus, van al God se handewerke. Daarom dat Vincent Van Gogh eenkeer gesê het Christus is die grootste kunstenaar wat daar is. Hy werk egter net in lewende gees en liggame; Hy maak unieke lewende mense in plaas van dooie standbeelde! Vreemd dus dat sommiges deesdae meer ontsteld is oor dooie standbeelde as om die beeld van God in lewende mense te laat herrys. En lof aan God oor ons elkeen se uniekheid aan te moedig!