Het jy geweet jy is ’n wonderwerk?
deur Stephan Joubert Lewende sisteme wat nie verander nie, is dood. Jou liggaam is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Volgens navorsing van Frisén, Spalding en andere van die Karolinska Instituut in Stockholm in 2005 is die meeste selle in enige volwasse liggaam minder as tien jaar oud. Terwyl sekere selle in jou ingewande slegs enkele dae leef, is jou rooibloedselle se lewensverwagting sowat vier maande, en jou witbloedselle s’n ietwat meer as ’n jaar. Ander selle soos dié in jou spiere se leeftyd is tot 15,1 jaar. Van liggaamselle gepraat, ’n studie deur Bianconni, Piovessan en andere in 2013 bereken jy het ’n volle 3.72 × 10^13 (tien tot die mag dertien) selle. Die meeste van hierdie triljoene selle word aanhoudend vervang ten einde jou lewend én jouself te hou. Jy is aan die verander net om jy te bly. God het jou mooi en goed gemaak. Soos wat Psalm 139 vertel, is jy fyn aanmekaar geweef in jou moeder se skoot. Nee, jy’s nie ’n slagoffer van die noodlot nie. Jy is deur die lewende God geskep om jy te wees. As jy jouself geneties moes ontwerp, sou die kans een uit tien triljoen wees dat jy jy sou wees. Dit vertel iets aardskuddend oor ons wonderlike God se gedetailleerde belangstelling in jou. Hy het beslag gelê op jou lewe. Jy is ’n wonderwerk wat voortdurend aan die vernuwe is wat jou selle betref. Laat toe dat God ook jou denke vernuwe, soos wat Paulus in Romeine 12 skryf. Laat sy Gees toe om jou van heerlikheid tot heerlikheid te verander.