top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Times are a changing - Hoe om met verandering te deel

Het jy geweet jou brein se voorkeur-sisteem of “default mode” is geskoei op die skepping van stabiliteit en bekendheid. Wit en swart werk goed; grys is nooit gewild nie. Daarom dat mense graag teruggryp na ou bekende roetes omdat hulle koppe geprogrameer is om voorspelbaarheid te omhels in onseker tye. Mymerings oor die goeie ou dae, toe alles nog bekend was, is dan aan die orde van die dag. Geen wonder nie dat in ’n nuwe wêreld waar verandering amper die enigste konstante is, dinge soos uitbranding, woede, angs en onsekerheid volop is. Terwyl Tom Friedman in 2005 nog geskryf het die wêreld plat is, het hy in 2008 gesê dis “hot, flat and crowded.” Deesdae IS DIT vloeibaar. Niks meer is dieselfde nie - kerkwees, politiek, sport, studies - noem dit en dit verander. Is dit dalk hoekom Bob Dylan nog in 1964 kon sing: “The times they are a changing,” maar dat hy in 2000 kies om te sing: “Things have changed.”

Ons moet met verandering deel. Ons moet akkomodeer Hoe? Wel, in John Kotter en Dan Cohen se boek: The heart of change (2002), wys hulle daarop dat die pad van verandering nie in die volgorde van “ANALYZE, THINK, CHANGE” verloop nie, maar eerder langs die roete van “SEE, FEEL, CHANGE.” Omdat verandering met onsekerheid te make het wat oorbrug moet word, is ons kop se rasionele sisteme altyd huiwerig. Verandering gebeur makliker en ook gouer as mense se gevoelens aangespreek word. Emosies oorroep denke wanneer verandering op die horison verskyn. Wanneer ons reg sien en reg voel, skuif ons makliker vorentoe en verander ons ook makliker as wanneer rasionele argumente en dreigemente ons probeer verskuif van punt A na B.

Die regte soort SIEN en VOEL roetes lei alreeds tot die regte soort kopveranderings. Navorsers het byvoorbeeld bevind dat studente wat bloot net deur die visuele beelde van ’n bepaalde klavierles in hulle eie koppe gewerk het reeds ’n proses van plastisiteit of groei ontsluit het in daardie area van hulle brein wat verband hou met vingerbewegings tydens klavierspeel. Arden (Rewire your brain. Think your way to a better life, 2010) sê dat: “mental practice alone contributes to the rewiring of the brain.” Verandering begin in jou kop; ek bedoel daardie soort verandering wat jy binne in jou voel en sien. Dink anders, voel anders, leef anders - dit moet jou leefritme word. Onthou weer Paulus se woorde in Kolossense 3:2 dat ons ons oog moet rig op Christus se wêreld. Of sy woorde in 2 Korintiërs 4:16-18 dat ons oog nie op die sigbare dinge moet wees nie, maar op die onsigbare.

bottom of page