top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Al die sweet is die moeite werd!

deur Helena Smith Telkens as ons na ’n lang Desembervakansie by die huis kom lyk dit asof ’n mens leeus kan jag in ons tuin en ons swembad lyk na ’n pot ertjiesop! Dit kos ’n paar dae se swoeg in die tuin en ure se sweet by die swembad om alles weer leefbaar te kry. Dit laat my altyd dink aan die “instandhoudingswerk” wat daar nodig is in die huwelik, want glo my, as jy nie doelgerig daaraan werk nie, kan dit gou soos ’n oerwoud, of nog erger, soos ’n woestyn wees. Ene Andre Maurois het gesê dat ’n geslaagde huwelik ’n gebou is wat elke dag herbou moet word. Ons het almal al gehoor dat ’n goeie huwelik nie ’n 50/50 verbintenis is nie, maar ’n 100% verbintenis. Jy kon voor jou huwelik kies wie jy wou liefhê, maar na die huwelik moet jy ’n doelbewuste keuse maak om die persoon vir wie jy gekies het, lief te hê. Daardie keuse moet elke dag gemaak word. My man se altyd: in ’n goeie huwelik moet daar eintlik ’n kompetisie wees oor wie kan mekaar die meeste bederf. Ek ken ’n man wat soggens douvoordag opstaan. Hy neem elke dag vir sy vrou ontbyt bed toe en hy pak hulle werk kosblikke. Dieselfde man haat dit om motors te was, maar sy vrou vind dit ontspannend en sy was elke Saterdagmiddag hulle motors! Instandhoudingswerk in jou huwelik vra tyd van albei partye. Daar moet tyd wees vir gesels, sodat jy op hoogte bly van jou huweliksmaat se doen en late en ook van groei of krisisse in sy/haar lewe. Gebruik die “loadshedding” wat ons deesdae in ons land ervaar as ’n lekker tyd om by kerslig (nogal romanties), met jou huweliksmaat te kuier. Miskien kan julle ook van hierdie tyd gebruik maak om saam vir julle gesin te bid. Ek sluit af met wyse woorde van Martin Luther: Vrou, laat jou man graag huis toe kom. Man, laat jou vrou spyt wees om jou te sien gaan.

bottom of page