Piesang skil
deur Stephan Joubert Juan se ma het hom kleintyd iewers in Suid Amerika geleer dat die regte manier om ’n piesang te skil is om te begin daar waar die vrug aan die tros vas was. Toe gaan studeer hy in die VSA, waar hy agterkom dat Amerikaners glad nie weet hoe om piesangs te skil nie. Hulle begin aan die anderkant. Juan het juis op ’n dag iemand probeer leer om ’n piesang reg te skil, toe sê dié: “You know, it doesn’t really matter that much how you peel a banana. All that matters is that you get to the fruit!” Juan sê hierdie opmerking het sy lewe verander. Hy het besef daar’s meer as een regte manier om by jou doel uit te kom. Sommige mense raak so vasgevang in detail dat hulle die einddoel mis. Ook op die reispad van die geloof gebeur dieselfde. Mense fokus op metodes, prosedures en kerklike gebruike maar vergeet dat die doel van geloof is om helder ligte vir Christus te wees. Jy en ek is geroep om Hom en ander mense lief te hê en daar’s meer as een manier om dit te doen. Dat ons dit doen, is egter al wat vir God tel.