Groter en beter?
“Bigger is better” - almal ken hierdie uitdrukking. Ongelukkig glo vele kerkmense dit. Daarom wen krag-godsdiens, “power religion” op vele plekke. Magtige kerke, super-leiers, spesiale wonders- dis aan die orde van die dag op die terrein van “power-religion.” Die Heilige Gees se werk word hier min of meer gelykgestel met geestelike steroïdes. Hy verander mense blykbaar in kragreuse wat om elke hoek en draai wonders doen. Paulus se woorde in Romeine 8 dat die Gees ons in ons swakhede bystaan is hier vergete. Of sy opmerking in 2 Korintiërs 12 dat ons sterk is wanneer ons swak is (as een van die pilare van die Christelike lewe) is hier afwesig. Nou ja, verseker werk die Gees kragtig. Ongetwyfeld skitter sy handewerk orals. Maar dit is juis paradoksale krag- dis die krag om te getuig, die krag om te dien, die krag om agter in die ry in te val, die krag om weer kinders te word, die krag om laaste plekke in te neem, die krag om selfsugtige ego's op te offer soos wat Jesus leer in Matteus 18 of Markus 10. Vir Jesus is groter en beter meeste van die tyd juis kleiner en minder!
In een van my gunsteling boeke, Love does: Discover a Secretly Incredible Life in an Ordinary World, vertel Bob Goff hoe hy en sy seuntjie een keer die speletjie “Bigger and Better” gespeel het. Die speletjie begin met iets van min waarde, soos ‘n 20 sent stuk. Dan gaan klop jy aan iemand se deur en vra of hulle iets van meer waarde wil verruil vir hierdie 20c nie. Dan vat jy weer dit wat jy geruil het en ruil dit nogmaals op vir iets van hoër waarde. Die doel van die speletjie is dat jy aan die einde van die dag moet opeindig met dinge van groter waarde as dit waarmee jy afgeskop het. Dan pas Goff dit toe op Jesus en sê Hy speel ook graag “Bigger And Better” met ons. Maar die spel gaan nie daaroor dat ons opeindig met meer geld, besittings of dinge nie. Hy daag ons juis uit om dit wat in ons eie oë saakmaak en wat as waardevol beskou word in die oë van die wêreld in te gooi in sy weergawe van “Bigger and Better.” In Goff se woorde vra Jesus van ons: “Will you take what you think defines you, leave it behind, and let Me define who you are instead?”