Dans van vreugde – soms is dit ’n keuse
deur Alet Gardner Petro*, ’n pragtige mamma van twee, het ontdek dat, wanneer sy haarself herinner aan God se voorsiening in die verlede en aan sy beloftes in die Bybel, en sommer ook die een loflied na die ander sing terwyl sy met huistakies besig is, dit help om die hartseer van ’n dreigende egskeiding makliker te hanteer. So kan sy “dans” van vreugde wat nie van omstandighede afhanklik is nie, maar wat van God self kom (Nehemia 8:11 beginsel). Soos wat die kandelaar in die tempel van ouds met suiwer olyfolie gevul moes word dat dit sonder ophou kon aanhou brand, het sy die belangrikheid daarvan ontdek om deurentyd met die suiwer olie van God se Gees gevul te wees sodat Hy heeltyd sigbaar kan wees in haar optrede (Efesiërs 5:18-19). Ongelukkig laat ons so maklik na om ons eie lamp brandend te hou deur op die sorge en swaarkry in ons lewe te fokus. In die proses staan ons nie die tyd af om na antwoorde in die Bybel te soek nie, om te onthou dat Jesus sy lewe gegee het dat ons ’n oorvloedige lewe kan hê nie, en gee ons nie bewustelik die beheer van ons lewe aan sy Gees oor sodat ons ’n Geesvervulde lewe kan lei nie. Soos ’n boer wat nie kan verstaan hoekom sy sprinkelbesproeiing nie werk nie totdat hy die padda uit die pyp haal, kan my powere geestelike lewe verander na die oorvloedige lewe wat Jesus beloof het wanneer ek die sonde (ook van twyfel en ongeloof) in my lewe identifiseer en bely ... en laat staan! Ek kan egter nie van ander verwag om my “lamp” vol “olie” te hou nie. Dis my eie verantwoordelikheid om die beginsels in die Bybel te leer ken en dit in gehoorsaamheid toe te pas ten spyte van my gevoelens, bewustelik met selfs net ’n kort gebed die Heilige Gees toelaat om die beheer van my lewe oor te neem (as dit nodig is, sommer ’n honderd maal per dag). Soos wat baie ander se familielede deesdae oor die wêreld versprei is, het ek myself ’n klompie jare gelede begin jammer kry omdat ek die liefdevolle saamwees met my familie en vriendinne gemis het, soms soos ’n vreemdeling in ’n nuwe omgewing gevoel het. Die Here het dit egter vir my op die hart gedruk om die uur-lange rit aan te pak na ’n Bybelstudiegroep waar ek nuwe vriendinne kon maak, nuwe “danspassies” kon aanleer. Vandag het ek die vreugde van goeie vriendskappe hier in Engeland. Maar my vreugde kom in die eerste instansie vanuit my verhouding met Jesus, is vrug/neweproduk van vervul te wees met die Heilige Gees. * Skuilnaam om identiteit te beskerm